As iets jou in sy mag het, is jy sy slaaf. Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. (2 Petrus 2:19-20)
Wat Petrus hier sê, hou ’n les vir ons almal in. As daar iets in jou lewe is waarvan jy nie ontslae kan raak nie – of dit nou ’n slegte gewoonte is of ’n troetelsonde – raak jy mettertyd die slaaf van daardie ding. En Christene wat eenmaal die sonde laat staan het en weer daardeur vasgevang word, is aan die einde slegter daaraan toe as voor hulle bekering.
Dink ’n slag mooi oor jou eie lewe. Is daar nie dalk iets wat vir jou belangriker as God geword het nie? Dit kan ook goeie dinge wees soos jou gesin, jou huwelik of jou werk. God eis die belangrikste plek in jou lewe, niemand of niks mag vir jou belangriker wees as Hy nie. Maak seker dat jy nie nou dalk slegter daaraan toe is as toe jy gelowig geword het nie!
Here, vergewe my asseblief dat daar nog so baie dinge is wat vir my geweldig belangrik is. Help my om nooit die slaaf van hierdie dinge te word nie. Amen.