Gedagte vir die dag: God ontferm Hom

uitgestrekte_hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee. In elke moeilikheid help Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander help wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig. (2 Korintiërs 1:3–4)

Soms is dit nodig om slegte tye deur te maak sodat jy perspektief kan kry op die dinge wat mense tref. Ondervinding is ’n harde leermeester, maar ’n betroubare een. Nie almal het die gawe om hulle in iemand anders se skoene te plaas nie. ’n Vaste werk, ’n goeie salaris en ’n betroubare mediese fonds is nie vir almal beskore nie. Ongelukke, inbrake, siekte en ander ellen­des tref nie elkeen van ons presies dieselfde nie. Sulke ondervindings help jou egter om simpatie en meelewing te betoon.

Ondersteuningsgroepe is van groot waarde wanneer mense met dieselfde probleme mekaar eerlik en openhartig ondersteun. Christene doen dit met oorvloedige liefde en hou niks terug nie. Wanneer hulle hande vat en bid, kom staan Jesus in die Gees tussen hulle, versterk hul geloof en gee hulle krag om hul pyn te verduur. Jesus het self vernedering, beledings, fisieke pyn en lyding deurgemaak en weet hoe jy voel. Deur die liefde en bemoediging wat ons deel, raak ons ook weer bewus van sy lyding en die wonderlike gawe wat Hy vir ons deur sy marteldood aan die kruis verdien het.

Jy hoef nie jou lewe te gee nie, dis die klein dingetjies wat saak maak. Pluk ’n blom in jou tuin of koop ’n lekker vars broodjie en gaan kuier by die bure oorkant die straat waar rowers gisteraand ingebreek het. Stuur ’n kaartjie vir die gesin wat hul moeder aan die dood afgestaan het; skryf ’n e-pos vir jou kollega wat siek is om hom of haar beterskap toe te wens.

Here, U help ons deur moeilike tye, sodat ons weer ander kan help.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swaeltjie ·

Dankie vir die pragtige Woord vanoggend “God ontferm Hom”; ja, Hy doen!

Jacqueline ·

Baie dankie dat julle dié stukkie bo-aan die opsommings van die dag gesit het. Dit het dadelik my oog gevang en hierdie stukkie was spesifiek vir my vir vandag bedoel! Nogmaals dankie!!

ronel ·

Wat n voorreg om te kan sien en lees en om omvou te wees van God se liefde hierdie mooi boodskap wil ek elke dag lees om my meer empatie en naasteliefde te laat openbaar. Mens spin so maklik n kokon om jouself en ander het jou liefde en omgee so nodig

Peter McCarthy ·

Kan ons nie liewers terug gaan na die 1953 vertaling wat as volg lui ” Geseënd is die GOD en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die GOD van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat onsdie wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur GOD getroos word.
Ek dink ons sien meer in die woord as dit wat julle geskryf het. Dit is ook meer reg en nie ‘n verdraaiing van die ware woord nie.

Sarie ·

Vir wat jy aan die geringstes onder ons doen het jy dit aan Jesus gedoen.

Jeannie du Plessis ·

God ontferm hom oor ons, en ek weet dit so goed, maar God vra jou ook om positief te bly en jou deel te bring Hy sal jou help as jy jouself help.
Hy verwag ook van jou om, om te gee oor ander … al is dit net n glimlag of n drukkie. Ek dink n vriendelike glimlag is meer werd as geld of kos.
Dit is in jou mag om n verskil te maak, glo daarin en jy kan die een wees wat soveel help.

Chris ·

Ek het nie die 1ste jul se gedagte van die dag ontvang nie en voel ‘n groot verlies. Sal dit graag weer wil ontvang

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.