Gedagte vir die dag: God praat met mense

 blomme_tuin_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: ‘Waar is jy?’ (Genesis 3:8–9)

Ons lees hoe God in die tuin van Eden gaan wandel het, die mense op­gesoek en met hulle gesels het. Hy het hulle met ’n voorwaarde in die tuin laat woon en hulle beveel: ‘Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy’ (Gen 2:16–17).

Adam en Eva kon sekerlik nie wag om Hom elke dag te sien en te hoor nie, vir Hom te wys wat hulle alles gedoen het en wat hulle reggekry het nie – om harde neute met ’n klip te kraak of om vir die eerste keer van ’n rotslys af te duik en veilig in ’n poel water te land. God het Hom verlustig in die prestasies van sy mense, totdat die slang hom deur Satan laat misbruik het om Eva te verlei en daar skeiding tussen God en die mense gekom het.

Vir die eerste keer vandat hulle Hom ken, het hulle bang geword en vir Hom weggekruip.

Natuurlik het God geweet waar hulle skuil, Hy weet tog alles. Maar Hy het na hulle geroep sodat hulle moes antwoord. Toe het Hy Hom aan hulle geopenbaar en hulle ongehoorsaamheid aan die lig gebring.

God wil graag met ons gemeenskap hou, Hy wil met ons gesels. Gebed is ’n manier om van ons kant af na Hom uit te reik. God wag vir ons, Hy soek na ons, Hy roep na ons. Hoor jy ook God se stem: ‘Waar is jy?’

Liewe Here, ek wil heeldag in u geselskap wees. Help my om u stem te hoor.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Louisa ·

Baie dankie vir elke dag se boodskap. Wat ek ontvang. Mag GOD julle seen met die werk wat julle doen.

Johan ·

Baie dankie vir die besielende dagstukkies vir elke dag. Mag ons Hemelse Vader julle daarvoor seen.

neelsie ·

Gebruik God se Woord daagliks om antwoorde te kry .
God praat duidelik deur die Bybel , lees en bestudeer dit met n ontvanklike gees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.