Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” (Matt 14:31)
Petrus se manhaftige uitstap op die see onderweg na Jesus is sekerlik een van die beste illustrasies van twyfel. Ja, ons lees in die verhaaltjie heel eerste van geloof. Dit was darem regtig ’n merkwaardige geloofsdaad om uit die skuit te klim. Dat hy nie sommer dadelik gesink het nie, is tog ’n bewys van sy onwrikbare geloof in Jesus se wondermag. Ek dink nie geloof is ooit heeltemal onwrikbaar nie. So lank as wat dit mense is wat glo, bestaan die kans vir ’n kraak in die geloofskwaliteit. Want as mense is ons baie sterk ingestem op die realiteit van omstandighede. Ons hou rekening met die harde feite. Dit is presies wat Petrus toe gedoen het. Die feit was dat die deinings bedreigend was, en dat hy op water loop. Water!? Maar ’n mens van vlees en bloed kan mos nie op water loop nie …. Toe raak sy geloof klein, wat beteken dat hy Jesus uit die oog verloor het. ’n Mens se geloof kan net sterk bly as jy God in die oog hou.
Maar eintlik wil ek mos praat oor God wat ons van twyfel bevry. En dit het toe met Petrus gebeur. Jesus steek sy hand uit en Petrus gryp sy hand. Dis net daar waar twyfel nek omgedraai word. Twee hande – ’n reddende hand en ’n grypende hand. Jesus is nie kwaad nie. Hy red die twyfelaar. En Hy sorg dat Petrus weet wat sy probleem was. Geloof wat onder die aanslag van twyfel gekwyn het.
Ons twyfel almal by geleentheid wanneer ons onder die aan slag van moeilike omstandighede Jesus uit die oog verloor. Steek tog maar net jou hand uit. God is altyd gereed om sinkende twyfelaars te red.
Twyfel jy soms? Kyk op! God steek sy hand na jou toe uit!
Baie woorde van inspirasie!
Baie mooi woorde van inspirasie!
Dankie vir die bemoedigende dagstukkies.