Gedagte vir die dag: God sal jou nuut leer dink

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. (Rom 12:2)

God se kinders mag nie aan die sondige wêreld gelyk word nie. Ons andersheid moet egter dieper gaan as bloot die dinge wat ons doen en sê. Ons sal ook moet leer hoe om nuut te dink. Ons moet God toelaat om ons denkprosesse te verander en nuut te maak sodat ons sal weet watter dinge in lyn met God se wil is.

Die vernuwing wat God in jou lewe wil bewerk, begin dus van binne en werk uiteindelik deur tot elke deel van jou lewe. God sal jou ook leer hoe jy tussen jou eie sin en wil en God se volmaakte wil vir jou lewe kan onderskei, en Hy sal jou help om uiteindelik jou wil prys te gee en sy wil te doen.

As God jou denkproses nuut maak, gaan jy ontdek dat jy oor baie dinge anders gaan dink. Jy gaan anders dink oor jou gods diens, oor jou verhouding met God en met ander mense, oor jou roeping in die lewe. Jy gaan jou ou, selfsugtige manier van lewe verruil vir ’n lewe waarin ander mense vir jou belangriker as jyself is.

“In die kokon van God se liefde, verander die larwe van selfsug in ’n skoenlapper wat dartelend die heerlikheid van God se vryspraak in dade van opoffering sigbaar maak” (Die Bybellennium, p. 1482). Eers dan sal jy dié mens word wat God bedoel het jy moet wees.

Hemelse Vader, sal U my asseblief leer om nuut te dink, en my die wysheid gee om u volmaakte wil vir my lewe te ken en te gehoorsaam. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.