Gedagte vir die dag: God se krag hou jou staande

vrede_berg_see_arms-uitgestrek_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen. (1 Petrus 5:10-11)

Soms voel dit vir ons of ’n hartseer seisoen in ons lewe net nooit verbygaan nie. Wanneer ons swaarkry, voel dit asof die lyding nooit gaan ophou nie. In hierdie swaar tye verwar ons so maklik oomblikke van die lewe met die lewe self, dink ons ons hele lewe is een groot ongelukkigheid. Ons weier om die groter prent te sien, naamlik al voel dit nie nou vir ons so nie, God is steeds in beheer en Hy sal weereens vir ons uitkoms gee. Hy was daar vir ons in die verlede en Hy sal ook vandag en môre vir ons daar wees.

Petrus gee in hierdie gedeelte ’n breër perspektief oor lyding. Hy sê in vergelyking met die ewige heerlikheid is die lyding wat ons nou verduur net ’n “kort tydjie”. Buiten die feit dat ons na ’n ewige lewe sonder hartseer en pyn saam met God kan uitsien, dra God ons ook hier en nou deur watter omstandighede ook al. Ons moet net leer om Hom met ons lewe te vertrou.

Ek wil jou uitdaag om vandag opnuut jou daaglikse bekommernisse en spanning aan die Here toe te vertrou. Moet nooit dink jy stry jou stryd alleen hier op aarde nie. God is vir jou, Hy sal vir jou uitkoms bied. As gelowige kan jy met sekerheid weet jy het deel aan die heerlikheid van Christus Jesus, vir ewig.

Daarom moet jy jou nooit aan jou omstandighede onderwerp nie, maar net aan God. Hy het immers ook oor jou sake beheer. Hy rus jou toe en gee jou die krag en genade om deur moeilike tye staande te bly. William Booth het gesê: “Die grootte van jou krag lê in die mate van jou oorgawe aan God.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan ·

Amen en Amen. Vandag se boodskap wat aan elkeen van ons gee , is boldness, om as ‘n ambassadeur in Christus Jesus te wees om wat alles in en om ons gebeur te kan uitbasuin. IN DIE NAAM BO ALLE NAME SAL HY REGEER EN ELKE KNIE SAL BUIG EN ELKE TONG BELY HY IS GOD. Vader Dankie dat ek weet wat ek weet. Eendag geen traan geen Bekommernis ens nie. Ek loof en prys U in Christus Jesus . Halleluja.

Sonja ·

Baie baie dankie vir elke dag se mooi stukkie.Ek is nie eendag spyt ek het hier aangesluit nie.
Is wonderlik om iets elke dag te ontvang.Baie dankie

Andrea ·

MM
Baie baie dankie vir vandag se stukkie.

Dit voel of vandag se gedagte vir die dag net vir my geskryf is.

Dankie, dankie dankie!

Genieve ·

Dankie Here dat u ons krag en sterkte is.Dankie vir elke gedagte wat met ons gedeel kan word.

Leon ·

Wil ook net baie dankie sê vir die dagstukkies wat ek elke dag ontvang. Dis einde vd maand en ek staar geweldige probleme in die gesig met huur, ens wat vandag betaal moet word. Dan lees ek n stukkie soos vandag s’n en kry weer moed en krag om aan te gaan. My geloof is somtyds so swak en dan probeer ek op my eie planne maak. Planne wat meestal nie werk nie. Weereens dankie vir die boodskap en die besef dat God in beheer is en dat die donker tyd waarin ek tans is,-ook sal verby gaan. Ek moet net bid, glo en vertrou!!

Karin du Plessis ·

Wat moet ek maak om ook elke dag se dagstukkie te ontvang?

SONJA ·

Elke dag se boodskappie is so spesiaal en voel asof dit spesifiek aan my gerig is baie dankie dit verryk my siel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.