Gedagte vir die dag: God se krag

reenboog_perde_veld_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Korintiërs 2:1-11

Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God. (1 Korintiërs 2:4-5)

Paulus sê sy boodskap is eenvoudig: Hy praat oor Jesus die Gekruisigde. Hy doen dit wel met angs en huiwering, bewus van sy tekortkomings. Maar, sê hy, hy weet dat die oortuigingskrag daar- van nie in geleerdheid of welsprekendheid geleë is nie, maar in die werking van die Gees. Die waarheid oor God (vgl. v. 1) word dus met die krag van God (vgl. v. 5) in mense se lewe tuisgebring.

Hoe maklik is dit nie om God se werk in hierdie hele proses raak te sien nie! Ja, God se waarheid mag geheimenisvol wees (vgl. v. 1), maar die wyse waarop dit in mense se lewe ’n werklikheid word, is glashelder. Dit gebeur deur God se krag. Deur die kragtige werking van sy Gees.

Eenvoudig, nie waar nie? Almal kan dit begryp, of hoe?

Toe nié. Nie solank daar mense is, gelowiges, wat hul geloof aan hulleself toeskryf en dit uit eie krag bedryf nie.

Dit is jammer dat dit so is. Want as ons gees eerlik met ons is – beter gestel: as ons onbevange luister na wat ons gees aan ons   sê – sal ons mos weet dat so ’n geloof-uit-eie-krag altyd die kiem van kortsluiting met hom saamdra. Die geringste afwyking van ons geesdrif bring ’n abrupte einde aan daardie geloof. Die oomblik dat ons ná tye van geestelike ekstase tot rus kom, begin die twyfel aan so ’n geloof vreet.

Nee, geloof wat op eie krag gebou is, ly aan twee noodlottige tekortkomings: aan krag en aan geloof. Goddank, dan, vir sý krag, en vir die geloof wat dit in my wek.

Ek glo, Here! Kom asseblief my ongeloof te hulp.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rachel

Baie dankie vir die daaglikse boodskap

Maria

Lieflike stuk.