Gedagte vir die dag: God se langtermynbeplanning

watter-pad-om-te-neem

Foto: Travelblog.org

Lees: Jesaja 55:6-13

My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. (Jesaja 55:8-9)

Daar kom tye in die lewe van elke mens wanneer ons God se lang ter mynbeplanning vir ons lewens in twyfel wil trek. God is egter altyd volkome in beheer – ook wanneer omstandighede vir óns buite beheer raak. Al wat ons in swaarkrytye moet doen, is om op Hom te vertrou. God kyk ánders as ons. Hy is in staat om die geheelprentjie te sien, wat ons nie kan nie.

Ons tree baie maal soos ’n kleuter op wat sy legkaartstukke op verkeerde plekke probeer indruk en dan moeilik raak as dit nie wil pas nie. Jou negatiewe omstandighede van die oomblik kan egter nie met geweld reg forseer word soos jy dit graag wil hê nie. God weet presies hoe om die legkaart van jou lewe te pak, al verskil sy prentjie dalk van die een wat jy graag wil hê. Sy gedagtes en optrede is anders as myne en joune, sê Hy by monde van die profeet Jesaja. God bly in beheer ook wanneer dit vir jou voel asof Hy Hom nie langer aan jou steur nie; nie jou gebede wil verhoor of jou omstandighede wil verander nie.

Daar is een ding waarvan jy seker kan wees: God se langtermynbeplanning van jou lewe is altyd baie beter as joune. En sy voltooide prentjie van die legkaart van jou lewe sal baie beter en mooier wees as jou eie weergawe.

Here, vergewe my dat ek al weer aan u langtermynbeplanning vir my lewe twyfel omdat dit van my eie verskil. Ek weet nou U bly in beheer en wil net die heel beste vir my hê. Dankie daarvoor! Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Zena ·

Dankie Maroela media vir die gedagte van die dag. Dis inspirerend, veral as dit voel mens gaan net afdraande. Soms het mens net so klein bietjie herinnering nodig om te besef God help ons elke dag deur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.