Gedagte vir die dag: God se liefde is elke môre nuut

Sonsopkoms-strand-Nathan-Steyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. (Klaagl 3:21-24)

“Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here” (Klaagl 3:18). Let tog net op dat dié mistroostige sinnetjie in die verlede tyd staan. Hy hét wel so gedink, maar in tussen het daar iets met hom gebeur …

Hy sê hy het iets ter harte geneem – iets wat ’n onuitwisbare indruk op hom gemaak het. En wat is die belangrike feit wat weer opnuut onder sy aandag gekom het? Dit is die feit dat daar geen einde aan God se liefde is nie. Hou nou in gedagte onder watter omstandighede die skrywer die woorde uitspreek. Sy volk is in ballingskap, vervreem van hulle land en hulle tempel. Dit gaan beroerd met hulle! En tog sê hy daar is geen einde aan die Here se liefde nie. Hoe kan hy dit sê? Die antwoord is dat ’n mens nie die Here se liefde aan omstandighede meet nie. Jy ervaar God se genade juis te midde van omstandighede op ’n verrassende manier. Jy ontdek die wonder van genade in klein dingetjies, gewoonlik die dinge wat jy normaalweg as vanselfsprekend aanvaar het.

Net die feit dat ons nog lewe, is ’n bewys van God se liefde. En daarom kan die digter bely dat die Here sy lewe is, hy lewe deur die Here se genade. Liefde, ontferming, trou – so ervaar hy die Here. En daarom bly hy hoop.

Aan die hand van ’n liefdevolle en troue God is daar altyd hoop.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

shaun ·

Net op u genade,liefde,ontferming en trou wt ek lewe my vader, darom bly ek hoop,AMEN!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.