Gedagte vir die dag: God se liefde ook vir my nageslag

sonsondergang_Nathan_Steyn_NZealand.jpg

Foto: Nathan Steyn

Die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag. (Ps 100:5)

Onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte. (Ps 103:17)

In hierdie paar teksverse wil ek graag die lig vanuit ’n ander hoek op God se onverganklike liefde laat val. Hier word gesing oor God se getroue liefde wat van geslag tot geslag strek; van sy liefde vir mense wat Hom dien, en dan om mee af te sluit weer daardie jubelrefrein: aan sy liefde is daar geen einde nie!

Gister het ons gehoor dat ons God se liefde ervaar omdat ons met Hom in ’n persoonlike verhouding verkeer; ons is tuis by die Here. In vandag se oordenking word daar ’n bepaalde inhoud aan daardie verhouding gegee: dit is ’n diensverhouding. Ons eer God nie net as die Vader wat ons versorg nie, maar ons antwoord op sy versorgende liefde deur Hom te dien. En hier gaan dit nie oor slawediens nie, maar eerder oor liefdesdiens. Dit is tog waar dat mense wat die Here van harte liefhet nie oor sy liefde vir hulle uitgepraat kan raak nie.

Maar dan ook hoor ons hier van God se getroue liefde. God bly getrou aan sy woord. As Hy sy liefde belowe, sal Hy woord hou. En dan vir die wonderlike belofte: God se liefde duur van geslag tot geslag. In die Ou Testament word dikwels na die verbond tussen God en sy volk verwys. Ouers en kinders word by die verbond betrek. God stel Homself ook aan die kinders van gelowige ouers beskikbaar. Watter gerusstellende voorreg om te weet dat God ook my kinders in sy sorg en bewaring hou!

God omarm jou gesin met sy onverganklike liefde.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.