Gedagte vir die dag: God se liefde vir jou sal nooit verdwyn nie

Berg_wolke_landskap_ReintDykema.jp

Foto: Reint Dykema

Lees: Psalm 103:8-18

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. Onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien. (Psalm 103:8, 11, 17)

Dit is God se liefde wat die wêreld laat draai, skryf Dante Alighieri. Daardie liefde is joune as jy aan Hom behoort! Daar is altyd vir jou ’n terugkomkans as jy aan God behoort, maar van Hom weggedwaal het. Hy skryf jou nooit af nie. Hy gee nooit moed op as jy maar weer en weer sonde doen nie. Hy nooi jou telkens uit om om te draai van jou verkeerde paadjie en na Hom terug te kom. Hy is altyd weer bereid om jou sonde te vergewe. Sy onverganklike liefde vir jou is die een standvastige faktor waarop jy elke dag van die nuwe jaar en ook elke dag van die res van jou lewe kan vashou indien jy aan Hom behoort.

As daar dalk vanjaar dinge met jou gebeur wat jou aan God se liefde vir jou laat twyfel, is dit net leuens wat die duiwel jou wil laat glo. God se belofte dat sy liefde vir jou nooit kan verdwyn nie, geld vir altyd. Hy het immers sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur sodat jy deur Hom die lewe kan hê. En Jesus het daardie liefde finaal by Golgota kom demonstreer toe Hy in jou plek aan die kruis gesterf het.

Sê elke dag vir God dankie vir sy ewige, onmeetlike en onverganklike liefde wat altyd daar is vir jou.

Here God, u onbegryplike liefde vir my slaan my asem weg. Dankie dat ek in die jaar wat voor my lê, elke dag daaraan mag vashou. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Muis ·

Danbaar om n God te kan he wat ons vergewe en altyd teen Sy boesem wil koester! AMEN!!!!!!

Lynet ·

Goeie begin vir die dag en weet dat GOD groot is en met elkeen van ons is. AMEN

Ben ·

Dankie Here dat U ons onvoorwaardelike lief het en sonder ophou ons sondes vergewe. Dankie dat Christus ook vir my aan die kruis gesterf het en dat ek mag weet dat daar ook vir my ‘n plekkie voorberei is in U ewige heerlikheid. Prys die Here..

Bart ·

Baie waar, behalwe vir moedswillige/opsetlike sonde, want dan tart jy mos vir God. Die Bybel maak n definitiewe onderskeid tussen per ongeluk vs opsetlike sonde en ons moet mense daaraan ook herinner. Dit behoort hopelik nie nodig the wees nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.