Gedagte vir die dag:  God se manier

Jesus_kleed_stiltetyd.jpg

Foto: freebibleimages.org

Lees Romeine 9:30–10:4

Hulle wil niks van God se manier van vryspraak weet nie; hulle probeer dit op hulle eie manier kry. (Romeine 10:3)

En wat ís God se manier? Die volgende sin verklap dit: “Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word” (v. 4). Die tyd vir voorwaardes is verby; die vryspraak is nou ’n Persoon.

’n Mens moet sekerlik simpatie met die godsdienstige Jode hê. Hulle en hul ouers en dié se ouers en al hul voorvaderlike geslagte het met die Moseswette grootgeword: Jy mag nie … jy moet … En hier kom Jesus van Nasaret en sê Hy is die gesalfde van God. En so ontstaan ’n heel nuwe geloofsbeweging.

Hoe leer jy die godsdienstige opvattings af wat jy met moeders- melk ingekry het? Nie sommer nie, sal almal wat weet vir jou kan sê. Hoe sal die Jode ooit daarvan kan afsien om “op hulle eie prestasies” (v. 32) te bou? Hulle was dan so knap daarmee om van sulke prestasies boek te hou en om dit dan by elke geleentheid af te rits (vgl. Luk 18:11-12; Fil 3:4-6).

Nou blyk dit boonop dat hulle, hierdie Jode, ook in die Christusbedeling hulle nie steur “aan die manier waarop God mense vryspreek nie” (v. 3). Dit is jammer. Hulle ly groot skade, tot hul ewige verdriet.

Maar die bejammerenswaardigste van alle mense is hulle wat met Jesusliedjies grootgeword het, wat in sy Naam gedoop is en wat by sy tafel-met-brood-en-wyn aansit. Hulle wat selfs hul gebede afsluit met “nie omdat ek iets verdien nie, maar enkel en alleen uit u genade” – en wat dan lewenslank probeer om God se aandag te trek met al hul godsdienstige prestasies.

O Here, verlos my van my pynlike pogings om U te beïndruk. Maak my vry om dankie te sê vir u onvoorwaardelike aanvaarding.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.