Gedagte vir die dag: God se plaasdam-genade-straal

windpomp-reint-6.jpg

Foto: Reint Dykema

Die Here is goed vir almal, en barmhartig oor sy hele skepping. (Psalm 145:9)

Ná die Karoo-stap van Wendy Maartens waarna ek gister verwys het, deel sy onder andere ook die volgende: “Ek kyk op na die vliegtuie wat so hoog oor ons vlieg. As ’n mens daar bo is, kyk jy af na die vlaktes en dink daar gaan niks daar onder aan nie. Jy sit met jou skootrekenaar of boek en die ongedurigheid van die lughawe nog in jou binneste. En jy weet nie van die haarwurm wat die grondpad hier onder kruis, die nessie in ’n doringboom, die straaltjie water uit ’n plaasdam nie.”

Ek en jy weet so baie dinge nie, sien soms so min raak, steur ons dikwels nie aan die ou klein goedjies nie. Ons het immers so baie belangrike dinge om aan aandag te gee. En dan mis ons iets van die wonder van die alledaagse skoonheid, die klein stukkies genade, die vanselfsprekende wat eintlik so ’n groot verskil maak … die straaltjie liefde wat ons elke dag uit God se plaasdam ontvang …

Vandag gaan ek dieper kyk, meer sien, soek na die dinge wat ek elke dag mis. Na die mooi in my mense se glimlag, die seën van gewone dinge, die wonder van klein goedjies waarvoor ek blind geword het.

Here, soms vlieg ek so hoog en vinnig dat ek al die mooi van die lewe mis … vandag daal ek laer sodat ek weer van voor af kan sien. Hoor. Voel.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.