Gedagte vir die dag: God se plan

reenboog-dor-landskap-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here sal regter wees en Hy sal regspreek tussen ons. Hy sal sorg en my saak behartig. (1 Samuel 24:16)

Dawid is nie deur Saul doodgemaak nie. Al sy pogings om Dawid in die hande te kry het op niks uitgeloop nie. Dawid moes vlug, ja. Jaarin en jaaruit. Hy het dikwels in oomblikke van vrees en sielsbenoudheid sy hart voor God uitgestort.

Tog het hy nooit sy geloof in God en sy beloftes verloor nie. Hy het staatgemaak op God se regverdigheid om aan hom reg te laat geskied. Dawid het die Here ook keer op keer herinner aan die feit dat die geweldenaars en vyande nie rekening hou met God nie. Telkens loop sy klaaglied oor in ’n lofsang waarin hy die Here loof wat hom uit elke benoudheid red. En dan bevestig hy weer sy vaste vertroue op God, sy Vriend. En keer op keer vra hy: Watter offer kan ek aan U bring uit dankbaarheid vir u weldade aan my?

Dawid behoort ons te inspireer om God in elke lewenskrisis vir uitkoms te vertrou.

Dawid het nog vir 50 jaar ná hierdie ontmoeting met Saul gelewe. Dertig van daardie lewensjare het hy as koning regeer. God het ’n plan met sy lewe gehad. Die woestyntyd het nie vir altyd aangehou nie.

Dawid het nie die reg in eie hande geneem nie, maar op God gewag.

Die Here is die volmaakte vriend. Sy woord is sy eer. Hy verbreek nie een van sy beloftes nie. Sy tydsberekening is volmaak. En op die regte tyd sál Hy uitkoms gee.

Here, dankie dat ek nooit aan u vriendskap hoef te twyfel nie. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.