God se smokkelaar getuig oor wonderwerke

Broer Andrew in sy Volkswagen Kewer (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Andrew van der Bijl, ’n doodgewone Hollandse man met ’n beskeie agtergrond, kan op 92-jarige ouderdom terugkyk op ’n lang pad vol avonture as God se smokkelaar. Broer Andrew, soos hy alombekend is, het in 1955 Bybels na vervolgde Christene agter die Ystergordyn begin versprei. Vandag gaan Geopende Deure voort met hierdie baanbrekerswerk in meer as 60 lande.

Broer Andrew se oë het oopgegaan vir die groot behoefte aan Bybels en bemoediging onder gelowiges in Oos-Europa tydens ’n besoek aan Pole. Hy het ja gesê vir God se plan vir sy lewe en begin om vervolgde Christene te ondersteun toe die Koue Oorlog op sy felste was. Sy sending het hom later ook na die Midde-Ooste, Verre Ooste en Afrika geneem.

Broer Andrew is een van slegs ’n handjievol Westerse leiers wat gereeld na Midde-Oosterse lande kan reis as ’n ambassadeur vir Jesus. Hy het al uitgebreide reise na die Islamitiese wêreld onderneem en samesprekings gevoer met die leiers van radikale groepe soos Hamas, Islamitiese Jihad en Hezbollah.

Een van die bekendste stories oor Broer Andrew gaan oor ’n gevaarlike insident vroeg in sy bediening. Hy het die Roemeense grens genader met sy Volkswagen-kewertjie, wat volgepak was met Bybels wat hy na Roemenië wou smokkel.

Broer Andrew, God se smokkelaar (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Ek het gehoop dat die grenswagte nie te veel aandag aan my sou gee nie en dat ek ongemerk oor die grens sou kon gaan. Die wagte het egter al die motors deeglik deursoek en elkeen se inhoud op die grond uitgepak. Sommige voertuie se enjins is selfs uitmekaar gehaal en die sitplekke is verwyder,” vertel hy.

Terwyl hy gebid het, het hy besef dat geen wysheid aan sy kant hom deur die streng grenspos sou kry nie. “Slegs ’n wonderwerk van die Here sou my verby die wagte kry sonder dat hulle die Bybels sien. Ek het toe ’n stapel Bybels op die sitplek langs my gesit, wetend dat dit onmoontlik sou wees om dit mis te kyk. Ek het deur dié stap beklemtoon dat ek waarlik op God staatmaak, en nie op my eie intelligensie nie.”

Hy het sy dokumente vir die amptenaar gegee en begin om uit sy kar te klim. “Die wag het egter my deur toegedruk, vinnig na my paspoortfoto gekyk en die dokumente vir my teruggegee. Hy het kortaf beduie dat ek moet ry. Ek het binne 30 sekondes deur hierdie streng kontrolepunt gekom sonder dat iemand die Bybels langs my raakgesien het!”

Toe Broer Andrew terugkyk, sien hy dat die wag die volgende kar afgetrek het vir ’n deeglike inspeksie. “My hart het in my keel geklop. Nie oor die opwinding dat ek die grens oorgesteek het nie, maar eerder in verwondering oor die wonderbaarlike werking van die Here. Hy het die pad vir my oopgemaak om Bybels in te smokkel na Christene wat geen toegang tot Sy Woord gehad het nie.”

Broer Andrew in Nederland (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Broer Andrew het al talle toekennings en eerbetonings ontvang. Hy is deur koningin Beatrix van Nederland as ’n ridder aangewys en het in 1997 die Wêreld Evangeliese Gemeenskap se gesogte Godsdiensvryheid-toekenning ontvang vir sy lewenslange diens aan die vervolgde Kerk.

“Die erkenning wat my egter die meeste behaag, is kopieë van KGB-verslae wat ek ná die val van die Ystergordyn in die hande gekry het. Daar was meer as 150 bladsye oor my, met volledige inligting oor my werk in die Sowjet-Unie en Oos-Europa. Hulle kon egter steeds nie my werk onder vervolgde Christene stop nie,” vertel hy.*

*Uittreksels uit die boek God se Smokkelaar.

Boek: God se smokkelaar

God se smokkelaar

Die nuwe Afrikaanse vertaling van Broer Andrew se biografiese boek, God se Smokkelaar, is nou beskikbaar. Sy roeping om die Liggaam van Christus te versterk, kry opnuut lewe in dié internasionale topverkoper. Besoek Geopende Deure se webtuiste by www.opendoors.org.za vir bestellings.

Een gelukkige leser kan ’n gratis kopie van God se Smokkelaar wen deur die volgende vraag te beantwoord: Met watter soort motor het Broer Andrew gery toe hy Bybels oor die grens na Roemenië gesmokkel het?

SMS “Maroela” en die antwoord na 43699 voor 16 April 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.