Gedagte vir die dag: God se teenwoordigheid in die vuur

vuur1.jpgLees: Daniël 3

Koning Nebukadnesar was verstom. Hy het opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Was dit nie drie mans wat ons vasgebind het en in die vuur gegooi het nie?” “Ja, beslis, U Majesteit,” het hulle vir hom gesê. Hy sê toe vir hulle: “Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ’n bo-aardse wese.” (Daniël 3:24-25, NLV)

Omdat Daniël se drie vriende weier om die goue beeld van koning Nebukadnesar te aanbid, word hulle in ’n vuurwarm oond gegooi. Almal meen dat hulle sal doodbrand, maar Sadrag, Mesag en Abednego lyk heel gerieflik binne die vuuroond – hulle is ongedeerd en die vuur doen niks aan hulle nie. Boonop sien die verbysterde koning ’n vierde man in die oond wat soos ’n boaardse wese lyk en saam met hulle in die vuur rondloop. Wanneer die koning hulle uit die oond laat haal, berig Daniël 3:27 dat hulle nie eers na rook geruik het nie. Die rede hiervoor was dat God saam met hulle in die vuur was.

Daar duik vuuroondsituasies op in die lewe van elke mens. Tye wanneer jy in sulke groot gevaar is, dat jy net daardeur sal kom mits jy God by jou het. God gebruik swaarkrytye om ons te louter, om die beste in ons na vore te bring soos goud of silwer deur vuur gesuiwer word. As jy aan God behoort, wees getrou aan Hom soos Daniël se vriende, en tree só op in jou eie swaarkrytye dat die mense wat na jou kyk nie anders kán as om op te merk dat God by jou is nie.

Here God, ek het al so dikwels beleef dat U by my was wanneer ek deur vuur moes gaan, dat ek van u nabyheid en beskerming kan getuig. Laat my in gevaartye só optree dat ander sal kan sien U is by my. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.