Gedagte vir die dag: God se vreugde-nuus

oggendster_boekevat.jpgLees: Lukas 2:8-20

Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (Lukas 2:10-11)

’n Engel het Maria “begenadigde” genoem, en vir Josef in ’n droom beveel om met haar te trou. Wanneer die engel die nuus van die Verlosser se geboorte aan die skaapwagters vertel, beklemtoon hy dat dit “goeie tyding van groot blydskap” is. Dit klink nie vir my of een van hierdie drie partye aan die begin die engelnuus as nuus van ’n groot blydskap ervaar het nie. Almal van hulle ontvang God se vreugde-nuus met vreesgevoelens. Maria moes gewonder het wat dit vir haar sou inhou wanneer sy as ongetroude, verloofde meisie nou skielik swanger sou word. Josef weer, het nie verstaan dat hierdie swangerskap ’n Goddelike ingryping was nie en het hom voorgeneem om die verlowing te verbreek. Die klompie skaapwagters was bang en verskrik met die verskyning van die engel.

Maar sodra hulle God gehoorsaam, wórd dit inderdaad vreugde nuus. Maria sing ’n pragtige loflied (Lukas 1:46-55), Josef trou met haar en die skaapwagters deel die vreugdenuus met almal waarmee hulle in aanraking kom.

Soms kry óns ook nuus wat aanvanklik na ’n ramp klink, maar wat God later omkeer sodat dit ’n bron van vreugde vir ons word – mits ons Hom gehoorsaam. Glo dat God se planne vir jou lewe die beste is, al verskil dit van jou eie.

Hemelse Vader, dankie dat U mettertyd ook van my eie rampspoedige nuus goeie nuus kan maak as ek bereid is om U te gehoorsaam. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ina ·

Dankie vir die pragtige boodskap. Ek kan dit oor en oor lees en elke keer net juig en God prys vir ons goddelike geskenk, Jesus.

Jenny Thom ·

Hello julle
Niemand het sover nog die waarheid omtrent Kersfees op jul blad geplaas nie.
Die tyd van die jaar, wat almal mislei.
Yashua/Jesus is gebore in Bethlehem in ‘n krip, heeltemal korrek.
Die herders was egter in die veld en het hul skape opgepas. Dit is nou ysige winter in Bethelehem, en geen herder sal nou sy skape in die veld laat wei nie.
Dit is so “sad” maar waar. ‘n Waarheid wat min mense bewus van is. Almal doen dit, met die gevolg wat maak dit saak? Ons sal almal eendag daarvoor verantwoording moet doen.
Yahshua ons Verlosser/Messias is nie op 25 Desember gebore nie, maar wel Nimrod. Met ander woorde Kersfees is ‘n heidense- afgodsfees wat onder die hedendaagse “Chrisendom” gevier word.
Yahshua/Jesus het in elkgeval opdrag gegee dat sy “DOOD” en “OPSTANDING” gevier moes word, nooit Sy “GEBOORTE” nie.

Net 2 geboortes word in die Woord gemeld. Dit was wel ‘n verjaarsdae wat verskriklike gevolge gehad het!!

1. Herodes waar Johannes die Doper se kop afgekap en op ‘n skinkbord vir Herodias se dogter, wie die Koning so beindruk het met haar dansery, gegee was;
2. Beltsassar waar die YaHweH/God se vinger teen die muur geskrywe het dat hy geweeg en te lig bevind was.
Ek sal dit werklik waardeer indien julle die stukkie plaas. Daar mag dalk iemand wees wat werklik hierdie waarheid wil weet en erken.
Indien daar wel iemand is wat meer omtrent die Waarheid wil weet, stuur vir my ‘n epos en ek sal met die grootste liefde vir jul die hele waarheid hieromtrent stuur.
Byvoorbaat dank
Jenny

Ina ·

Sjoe hoe plaas jy nou ‘n demper op alles………ek glo in God en dit maak nie saak wanneer Jesus gebore is of waar nie, maar Jenny jy sal nie my geloof in God kan skaad nie.

magdas ·

Dieselfde hier. Niks sal my geloof in GOD skaad nie. Ek hel al baie gehoor dat ons op 25ste die Here se geboorte herdenk. Daar is nie duidelikheid op watter dag Jesus gebore is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.