Gedagte vir die dag: God se wil?

 ligtoring_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 1 Johannes 1:5-10

God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie (1 Johannes 1:5)

Is daar enigiemand wat dit sal waag om hierdie sterk, sterk uitspraak teen te spreek? Wie wil dit ontken of, erger, probeer weerlê? Nie sommer nie. Gelowiges stem oor baie dinge nie saam nie, maar minstens hieroor is hulle dit hartlik met mekaar eens: Daar is geen krieseltjie duisternis in Hom nie. Ons God is ’n God van lig. En die beste van alles? Die lig wat uit Hom straal, verlig ook sy kinders. Hulle dra dit in ’n donker wêreld in omdat Jesus hulle aangestel het om dit te doen (vgl. Matt 5:14-16). Eenvoudig, nie waar nie?

Nou is dit tog vreemd dat gelowiges aanhoudend kla oor hoe donker alles rondom hulle geword het. Rondom húlle, die ligdraers. Maar selfs vreemder is die duister motiewe wat so dikwels en so maklik aan God toegeskryf word. Daar word sonder ’n sweempie ironie – en met volop piëteit – verklaar dat dit sy wil was dat hierdie en daardie ellende toegeslaan het. Dat ons daarom eenvoudig moet berus, dit is nou maar eenmaal so.

Só kry rampe en ongelukke en persoonlike tragedie sonder meer die stempel van God se wil – en dit deur gelowiges. Mense wat vlot en vroom verklaar dat Hy lig is, dat daar geen duisternis in Hom is nie. Ligdraers, wat hierdie donker tyding versprei.

Hierdie uitsprake, hoe goed ook al bedoel, grens aan laster. Dit is niks minder nie as ’n weerspreking van Johannes se verklaring hierbo. Dit gee die duisternis die laaste woord en maak God ’n troostelose tiran.

Here God, ewige Lig van u wêreld, skyn ook oor my en my gedagtes. Maak my woorde helder en my dade lig.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jacques ·

Die natuur. Alle natuurlike wette is aan die begin daar gestel. Alles is met alles verbind en soos wat die mens industrieel ontwikkel het, het dit ook ‘n invloed op die natuur wat bloot sy gang gaan. Die mens het die afgelope 100 jaar meer skade aan die aarde aangerig as in die voorafgaande derduisende jare. Natuurrampe word nie erger agv meer sonde nie, sonde was nog altyd volop. Dit vergerger weens industrialisering. God is nie in beheer nie. Hy het heerskappy aan die mens gegee en die enigste ding wat Hy graag van jou wil terughê is jou wil.

Connie ·

Mense se sondes en ongehoorsaamheid aan God veroorsaak natuurampe soos in Noag se tyd.

René Erwee ·

Barend Vos: ek dink die ‘laster’ dat mense rampe/siekte/tragedies aan God se wil toeskryf, is onkunde. Dalk voel hulle dit is beter dat dit van God af kom as wat ons uitgelewer is aan noodlot/die bose/toeval. God is so groot en sy denke ver ver bo ons s’n, ons verstaan nie als wat gebeur nie en glo dat God in beheer is van als???

tony ·

Rene ek stem met jou saam. In die bybelse tyd het Hy volkere gestraf , waarom nie vandag nie . Dit is dieselfde God. God se dade is vir ons te groot om te verstaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.