Gedagte vir die dag: God self blaas ons geloofsvlam aan

Olie_lamp_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. (2 Timoteus 1:6-7)

Het jou geloofsvlammetjie al bietjie laag gebrand om een of ander rede? Dalk het jy deur ’n moeilike tyd gegaan en gevoel God het jou finaal verlaat. Miskien het jy so besig geraak met jou lewe dat daar net nie meer tyd vir God is nie en jou verhouding met Hom het ’n laagtepunt bereik. In hierdie gedeelte lees ons dat Paulus vir Timoteus aanspreek juis oor hy sy ywer vir die bediening verloor het. Ons weet nie wat die rede hiervoor was nie, maar vermoed die feit dat Christene deur die staat vervolg was dalk een daarvan kon wees. Paulus was toe al in die tronk omdat hy Christus verkondig het. ’n Mens kan jou net indink hoe dit Timoteus moes ontsenu toe hulle sy leermeester arresteer en in die gevangenis gooi. Hy het self onder verdenking gekom, en sekerlik groot onsekerheid ervaar. Paulus besef dit en daarom wil hy hom bemoedig om onverskrokke met sy bediening voort te gaan.

Paulus verseker vir Timoteus – en ook vir ons – God gee ons krag en in Hom moet ons sterk staan. Die Heilige Gees stel ons in staat om nie deur mense van stryk gebring te word nie, maar onverskrokke die Here se opdragte uit te voer.

Toe Timoteus as bedienaar bevestig is, is sy spesiale genadegawes bekragtig. Paulus herinner hom daaraan en spoor hom aan om die gawes opnuut te ontdek en te gebruik.

Vra God om die gawes wat Hy jou gegee het opnuut aan jou te openbaar sodat jy dit tot sy eer kan uitleef en ’n impak in ander mense se lewe maak. Ek bid dat God self jou geloofsvlam sal aanblaas.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.