Gedagte vir die dag: God sién jou!

pad-vrou-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Van toe af het Hagar die HERE wat met haar gepraat het, genoem “die God wat my sien” … (Genesis 16:13)

Soms klink die verhale in die Bybel na ’n vreemde sepie. Soos toe Sarai en Abram nie kon swanger raak nie en Sarai inisieer dat Abram by Hagar, haar slavin, moet slaap sodat dié sy kind kon verwek. Hagar raak dan ook swanger met haar werkgewer se seun, maar nie lank nie of daar is groot spanning tussen die twee vroue waarop Sarai vir Hagar as’t ware wegjaag.

Alleen, geskok, verwese en verslae stap Hagar deur die woestyn op pad Sur toe, toe ’n engel van die Here aan haar verskyn, haar hart hoor en haar troos. Op ’n kritieke oomblik kom staan God by haar en sê: “Ek sien jou!” En hierna noem Hagar die Here: “Die God wat my sien.”

Dalk het jy al gevoel, of voel jy nou op hierdie oomblik ook, of niemand jou raaksien nie. Wonder jy of enige iemand weet hoe uitdagend jóú lewensreis is.

Weet vandag: God sién jou hart, jou diepe jý daar waar jy nou is. Meer as dit, het Hy jou in al jou gisters gesien en sal sy oë nie van jou af wegkyk in enige môre nie.

Dankie dat U my werklik raaksien. Raak hoor, Jesus van Nasaret.

Bron: Krag vir elke dag deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.