Gedagte vir die dag: God skep nuut

Dam_wolke_sonsopkoms_Reint_Dykema.jpg

Argieffoto: Reint Dykema

Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die goeie belofte sal nakom … Ek [sal] vir Dawid ’n wettige afstammeling gebore laat word en hy sal in die land reg laat geskied en reg doen … Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons. (Jeremia 33:14-16b)

Miskien lê jou lewe in skerwe terwyl jy nou hier lees; dalk is jou hart stukkend gebreek en voel dit vir jou jy sal nooit weer kan opstaan nie. Ek weet nie wat jou omstandighede vandag is nie, maar as jy platgeslaan voel, skep moed. God kan jou lewe volkome herstel.

In vandag se teksgedeelte lees ons hoe God die volk Israel met die beloftes vertroos dat Hy hulle sal genees, ’n sterk vesting vir hulle bou, hulle lot verander, hulle kinders gee, hulle reinig van hulle sonde en vir Jerusalem vrede sal gee. Hy sê dit ook vandag vir my en jou. Wees verseker God kan ’n ramp omkeer. Hy kan ʼn katastrofe in seën verander. Ons dien die God van wonders.

’n Ware verhaal vertel hoe die groot uitvinder Thomas Edison se laboratoriums in 1914 in New Jersey uitgebrand het. Die meeste van sy lewenswerk – Edison was toe reeds sewe en sestig jaar oud – en toerusting ter waarde van miljoene dollar was verwoes. Sy seun Charles het op Edison afgekom waar hy verdwaas na die vernietiging gestaar het. Charles het sy pa bitter jammer gekry. Toe Charles sy pa vertroos het Edison opgemerk: “Weet jy, my kind, daar is groot waarde in rampspoed. Al ons foute word in die proses verwoes. Soos met my werk, alles wat ek reg gedoen het, is weg, maar so ook alles wat ek verkeerd gedoen het. Danksy die Vader kan God se trou nooit vernietig word nie daarom kan ons almal weer van voor af begin.”

God se genesende krag en liefde kan ons weer oprig, Hy gee uitkoms, vertrou op Hom, Hy is die Skeppergod wat alles nuut kan skep. Jy kan ’n lewe van oorwinning lei omdat Christus die wêreld reeds oorwin het. In Hom is ons oorwinnaars. Oorwinning kom altyd na ’n stryd, ons moet bly volhard en God vertrou vir uitkoms. Psalm 118:15b-16a sê: “Die Here doen kragtige dade, die Here triomfeer!” My gebed is dat Hy dit in jou lewe sal doen.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adolf ·

Die Here wat ons dien is a wonderlike God. Hy verander nooit. Ek is lief vir my God wat ek aanbid.
Baie dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.