Gedagte vir die dag: God sorg vir alles

strand_wolke_blomme_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie. (Genesis 8:22)

Is dit nie deur ons eie toedoen dat die aarde stadigaan vergaan nie? Ons hoor dit dag vir dag – hoe die mens self verantwoordelik is vir klimaats­verandering, oorbevolking en dreigende hongersnode. Toe Noag en sy mense en al die diere wat saam met hulle in die ark was, eindelik weer kon uitkom, het Noag vir God ’n offer gebring. God het dit aanvaar en belowe om nooit weer die aarde met so ’n ramp te tref nie. Hy moes optree vanweë die slegte dinge wat die mense gedoen het en almal uitroei. Vandag lyk dit of God nie nodig het om in te gryp nie.

Die mens se misbruik van die aarde se natuurlike hulpbronne sal vanself uitloop op die volgende kataklisme. Ons hoor gereeld en uit baie oorde hoe siek die aarde is, tog is daar steeds geen einde aan die vernielsug van die rykes ten koste van die natuur en van hulle wat naby die natuur leef nie. Mense ver­ryk hulself ten koste van ekologiestelsels wat God fyn beplan het, en van ons kinders en kleinkinders se toekoms.

God is lief vir sy mense, maar Hy is ook lief vir die res van sy skepping. Dit maak Hom hartseer om te sien hoe ons met water mors en plante en diere stelselmatig uitroei. Doen vandag iets daaraan: Plant ’n boom, lê ’n tuin aan, hang jou wasgoed in die son uit, stap na die winkel om die hoek. Ge­bruik water en elektrisiteit spaarsamig, moenie kos mors nie, hersirkuleer pa­pier, plastiek en glas. Hou jou omgewing skoon en dank God vir die wonderlike aarde wat Hy geskep het om vir jou ’n tuiste te wees.

O, Here, ons wil graag regmaak wat ons en ons voorvaders verbrou het. Aanvaar asseblief ons pogings en sterk die hande en voete van almal wat voor loop, op soek na ’n groener aarde.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

sean ·

Goeie dag dt is a bje mooi word vidi dag en ek voel some kla gestig danki jule mak my dag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.