Die Here is altyd op sy troon; op sy regterstoel is Hy steeds gereed vir die regspraak. (Psalm 9:8)
Een van die bekendste beelde vir God is as ’n Regter. Ons lees dikwels in die Bybel – soos hier – dat Hy ’n regverdige Regter is. Ons lees ook dat Hy van ons “geregtigheid” eis, maar wat beteken dit nou eintlik? Wel, geregtigheid het twee kante. Ons moet eerstens reg wees teenoor God, wat behels dat ons moet doen wat Hy vra, en dan moet ons ook reg wees teenoor mense, wat behels dat ons altyd met absolute regverdigheid sal optree. Laat ons dus ’n “regverdige” wees, soos die Ou Testament so iemand noem.
God se geregtigheid behels ook die volgende waarheid: God staan duidelik aan die kant van wat reg is, nooit aan die kant van wat verkeerd is nie. As ons saak dus reg is, staan God by ons – of ons by Hom. Met so ’n saak kan ons maar voortgaan. Moet jou egter nie begeef in enige onreg nie, want God is nie dáár nie! Hy eis reg en geregtigheid.
Ewige Regter, maak my volkome regverdig, maar laat my regverdigheid ook genade insluit. Amen.
Amen