Gedagte vir die dag: God van die onmoontlike

 koringveld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Gideon was besig om koring uit te slaan in ’n parskuip waar hy weg gekruip het vir die Midianiete. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!” (Rigters 6:11-12)

Dit is baie interessant hoe die Engel van die Here Gideon aan spreek as “dapper man”, want as ’n mens ’n bietjie verder lees, kom jy agter dat Gideon geen selfvertroue gehad het nie. Hy betwyfel in die eerste plek of die Here werklik by hulle is en maak verder verskoning dat sy familie die geringste van alle families in die ganse volk is en dat hy nog die swakste persoon in sy familie is.

Die Midianiete was God se instrument om die volk te tugtig, want hulle het vreemde gode aanbid. Die volk het egter berou gehad oor hul afgodery en het ernstig na die Here begin roep. Daarom verskyn die Engel van die Here aan Gideon met ’n opdrag om die volk uit die hand van die Midianiete te verlos.

Uit Rigters 8:10 kan ons aflei dat die leër van die Midianiete 135 000 man sterk was. Met die eerste oproepinstruksies het daar 32 000 man uit Israel opgedaag. God sê toe vir Gideon dat almal wat nie hart en siel daar is nie, huis toe moet gaan. Daar bly toe net 10 000 oor. God reël toe nog ’n uitdun sodat daar uiteindelik 300 manskappe saam met Gideon oorbly vir die stryd. Met hierdie 300 manskappe het God aan hulle ’n bonatuurlike, goddelike oorwinning gegee.

Is jy vandag bereid om God te gehoorsaam op sy voor waardes? As God jou ’n dapper held noem, is dit omdat Hy die potensiaal in jou sien wat Hy alleen deur geloof kan ontsluit. God is lief om oorwinnings te gee waar die situasie menslik onmoontlik is.

Here, gee my asseblief die vermoë om myself deur u oë te sien. Gee vir my die waagmoed om dapper te wees. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SNEL ·

Pragtige gedeelte, God is groot en deur ons swakhede en tekortkomings, werk Hy juis om Sy grootheid te wys. Dis so wonderlik om te dink dat God sulke nietige en gewone mense kan gebruik, dan is daar niks fout met ons ook nie. Alle eer aan die Here, wat ons help om die “reuse” in ons eie lewens aan te vat en te oorwin deur Sy krag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.