Gedagte vir die dag: God van nog ’n kans

God-Se-Wil_rainbow-142701_1280.jpg

Argieffoto (Foto: werner22brigitte, Pixabay)

Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ’n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: my reënboog het Ek in die wolke geplaas.” (Genesis 9:12-13)

Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was ’n wit perd … (Openbaring 19:11)

Reg deur die Bybel lees ons hoe God keer op keer vir die mensdom ’n volgende nuwe kans bied, ’n kans om oor te begin. God gee ’n nuwe skoon bladsy waarop die mens weer kan probeer om in God se wil te wandel. Die verhaal van Noag is ’n voorbeeld hiervan. Die herskepping ná die vloed begin met ’n herbevestiging van die mens se waardigheid en verantwoordelikheid. Noag is die vader van die nuwe mensdom, net soos Adam dit van die ou bedeling was. Abraham se verhaal vertel ook onder andere van ’n nuwe begin wat God vir die mensdom gegee het en só is die Bybel deurspek van verhale waar ons lees hoe God oor en oor vir mense ’n geleentheid bied om ’n pad met Hom te stap.

Selfs vandag nog gee God ons elke dag die geleentheid om oor te begin. As ons verbrou en sê ons is jammer, begin Hy van voor af met ons die pad stap. Wanneer God herskep, dan begin Hy weer van nuuts af asof daar niks tussenin gebeur het nie. Ons herskepping in Christus maak van ons nuwe mense en wis die ou sondige lewe heeltemal uit. Met hierdie bevestiging kan ons met ’n oop gemoed opnuut begin.

Dalk dink jy God sal nooit die foute wat jy in die verlede gemaak het, kan oorsien nie. Vra Hom, Hy sal. Hy kan ook vir jou ’n nuwe begin skep, Hy is immers die Skeppergod. Gee jou opnuut aan hom oor.

Vandag se bronteks vertel van ’n visioen wat Johannes sien, die hemel gaan oop en Jesus verskyn, nie as ’n Lam nie, maar as ’n magtige Ruiter op ’n wit perd. Jesus het die eerste keer as die Lam gekom, as die Een wat vir die sonde geoffer moes word. Wanneer Hy weer kom, is dit egter as Oorwinnaar en Regter.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.