My God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus. (Filippense 4:19)
Josua en Kaleb was nie bekommerd oor die reuse in die land Kanaän nie. Die ander spioene was egter vreesbevange. Hierdie spioene het vergeet van al die wonderwerke wat God vir die kinders van Israel gedoen het gedurende die 40 jaar sedert hulle Egipte verlaat het. God het die Rooi See oopgekloof sodat hulle op droë grond kon deurloop. Hy het water uit ’n rots laat vloei sodat daar vir hulle drinkwater kon wees. Hy het manna uit die hemel gestuur om hulle van kos te voorsien. Hy het bedags vir hulle skaduwee voorsien en lig in die nag. Hulle het al daardie wonderwerke ervaar, maar steeds, toe hulle die reuse teëkom, het vrees hulle oorweldig. Hulle geloof in God het hulle verlaat.
Hebreërs 11:6 sê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.” God plaas ’n hoë premie op geloof. Die skeiding van die Rooi See is deur geloof gedoen. “Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars, toe hulle dit probeer, verdrink het” (Hebreërs 11:29). God tree nie op buite geloof nie, my vriend.
Kaleb het ’n gees van geloof gehad. Watter gees het jy vandag? As jy deur ’n moeilike tyd gaan, hoe hanteer jy dit? Jy moet vertrou dat God jou oorwinning op sy manier sal gee. Dit gebeur dalk geleidelik, maar dan, op ’n dag, gryp Hy in en bring redding vir jou situasie. Dit kan ook wees soos Paulus se doring in die vlees: God verlig dalk nooit die lyding wat jy verduur totdat jy eendag hemel toe gaan nie. Jy moet vertrou dat Hy weet wat die beste vir jou is. Wat ook al gebeur, jy moet voortgaan om Hom te vertrou as Hy vir jou sê: “My genade is vir jou genoeg.”
Vertrou dat Hy in elkeen van jou behoeftes sal voorsien, net soos Hy belowe het.
My Vader, ek besef opnuut dat U nie buite geloof optree nie. As ek dink aan al die magtige manne van God oor al die eeue heen, dan besef ek dit was op grond van hulle geloof dat hulle oorwin het. Ek wil myself vandag opnuut aan U en u weë toewy. Ek vertrou op U, my God, om in al my behoeftes te voorsien volgens u rykdom in Jesus. Amen.
Dankie Here dat ek mag weet uit my eie ondervindinge dat elke woord soos hier bo aangedui, die heerlike waarheid is….op U my Heer is my vertroue my hoop tot in alle ewigheid…..U het my nog nooit beskaam nie…Amen
AMEN