Gedagte vir die dag: God voorsien vir sy volk

Wolke_heuwel_ReintDykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Lees: Nehemia 9:16-24

U het u goeie Gees gegee om hulle te onderrig, U het u manna nie van hulle teruggehou nie, U het vir hulle water gegee vir hulle dors. Veertig jaar lank het U vir hulle gesorg, hulle het niks kortgekom in die woestyn nie. Hulle klere het nie verslyt nie, hulle voete het nie geswel nie. (Nehemia 9:20-21)

Nadat Nehemia die mure om Jerusalem herbou het, roep hy die volk bymekaar vir ’n geskiedenisles. Hy vertel hulle haarfyn hoe God jare lank vir sy volk gesorg het tydens hulle woestynreis. Bedags het Hy vir hulle van skaduwee voorsien met ’n wolkkolom en snags vir hulle lig gegee deur ’n vuurkolom. Hulle het niks kortgekom nie. Hulle was gesond, God het vir hulle manna gegee, kwartels en water net wanneer hulle dit nodig gehad het. Selfs hulle klere het nie verslyt nie. Tog was die volk nie tevrede nie. Hulle het so om Moses se ore geneul dat hy later moedeloos was.

Alhoewel die storie vir ons bra ondankbaar klink, doen ons dikwels dieselfde. In plaas daarvan dat ons bly is oor God se voorsiening in ons lewe, vergelyk ons ons met mense wat meer as ons het, en in die proses raak ons net so ondankbaar soos die klomp Israeliete. Dink gerus terug aan al die kere in die verlede toe God jou versorg het, vir jou voorsien het, en wees dankbaar. Loof Hom vir sy belofte dat Hy ook in die toekoms in jou behoeftes sal voorsien soos wat Hy dit vir sy volk gedoen het.

Here, as ek terugkyk, is daar so baie kere dat U vir my voorsien het. Baie dankie daarvoor! Vergewe my asseblief dat ek dikwels ontevrede was en maak my opreg dankbaar. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E ·

Dit is so waar. God voorsien elke dag. Hy weet wat ons nodig het. Dit is ons wat so ondankbaar is. Ons soek nie water nie, maar coke. Ons soek nie manna nie, maar kfc. Ons soek nie gewone huise nie, maar mansions. Ons soek nie karre nie, maar suv’s. Ons maak onself ongelukkig. Sodra ons fokus van Hom na ons draai, gebeur hierdie dinge. Ek is self skuldig hieraan.
n Mens sal nooit tevrede wees nie. Ons moet elke dag van voor af probeer om dankbaar te wees. Kom ons probeer.

E ·

Ek is so skuldig. Ek soek nie water nie, maar coke. Ek soek nie manna nie, maar kfc. Ek soek nie ‘n huis nie, maar ‘n mansion. My kar is nie goed genoeg nie, net ‘n suv sal doen.

Ek sal ‘n ou tannie wat ek geken het se woorde nooit vergeet nie:

“My kind jy is skatryk! Jy het ‘n wonderlikke man en 2 pragtige kinders.

Sy bly nou nog alleen op haar plaas. Sy het ‘n baie mooi mansion en luukse voertuie. Maar sy is alleen.

SNEL ·

Ja, E, ek is ook bitter skuldig om altyd beter of meer te wil hê, maar is soos daai ou Tannie gesê het, en dit het my laat dink om miskien fokus van materialistiese goed af te vat en op dinge uit God se hand te fokus, goeie gesondheid, of miskien voel mens nie so goed, (maar dankbaar dan vir nog n geseënde dag saam met geliefdes te wees of om dinge reg te maak), die natuur, vriende en familie, daai lekker beker koffie wat mens kan proe en geniet vroeg in die oggend.. ..sommer net dankbaarheid vir dinge wat geld nie kan koop nie. Dankie Heer, vir al U seëninge!

neelsie ·

Ons Vader het altyd voorsien , nie te veel nie , maar genoeg.
Dankbaarheid moet oorgaan in werke.
Gehoorsaamheid vloei uit dankbaarheid vir God se genade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.