Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. (Deut 32:39)
U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons. (Ps 36:10)
Ons het ons Skeppergod geëer vir die skepping van die natuur, die plante- en diereryk en die mens. Ek wil graag afsonderlik die klem laat val op lewe as sodanig. Ek het onlangs bolle geplant, droë, bruin, onaansienlike plantmateriaal. Na verloop van tyd het daar groen spruite uit die grond gekom, gegroei en blomknoppe gemaak. Dag vir dag het daar ’n stukkie wonder voor my oë ontvou. Totdat ’n kleurvolle blomknop verskyn het en ’n baldadige vrolike simfonie van kleure ten toon gestel het. Maar net deel van ’n natuurlike proses? Nee, die proses is deur ’n Meesterbrein bedink en in werking gestel. Elke blom is ’n kunswerk tot eer van die Skepper.
In my tuin het ’n paar klein suikerbekkies nes gemaak. Die nesmaakproses, die wagperiode tydens broeityd, aandra van kos, die uitbroei van die piepklein eiertjies en die getjirp van die twee nuwelinge – sommer net natuurlik? Nee, dis die groot Gewer van lewe wat dit tot stand gebring het.
Iemand wat al by die geboorte van ’n baba teenwoordig was, sal nie anders kan as om van verwondering te getuig nie. Die eerste trompetgeskal van nuwe lewe is niks anders as ’n Godverheerlikende solosang nie.
Lewe is nie sommer net nie. Dit is nie vanselfsprekend nie. Elke vorm van lewe is ’n gawe van God. En daarom durf die mens nie met hierdie gawe doen wat hy wil nie. Dit is net te kosbaar om te vermors. Ons moet respek en waardering vir lewe hê omdat ons respek en waardering het vir God, die Gewer van lewe.
Lewe is ’n gawe van God. Hanteer dit versigtig!
Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy
Dankie here vi elke gawe wt ek dag tot dag aanskou U my Meester is Groot sonder U is ek niks my Koning,dankie Heer,Amen