Gedagte vir die dag: God weet alles

vrou_bybel_bid_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie. Ons staan kaalgestroop en weerloos voor dié Een aan Wie ons verantwoording moet doen. (Hebreërs 4:13)

Ek is seker jy het al skelm sjokolade geëet. So is daar ander mense wat ‘n roomys skelm in die kar opeet voordat hulle by die huis aankom. Ons het almal al iets in die geheim gedoen. Soos ‘n mens iets doen sonder dat ander daarvan weet, kan jy ook dinge dink waarvan niemand weet nie. Maar die Here weet wat jy doen en dink.

Ons lees in Hebreërs 4:13 dat daar niks in die skepping is waarvan God nie weet nie. In ons denke verklein ons die Here en ontneem ons Hom van sy almagtigheid. God is almagtig en alwetend. Daar is niks waarvan Hy nie weet nie. Jy kan nooit iets vir Hom wegsteek nie. Die Boodskap vertaal hierdie teks as dinge wat op ‘n tafel uitgepak is voor God. Hy weet alles en sien alles asof dit op ‘n tafel voor Hom is.

Die uiteinde van alles is dat jy wat jy ook al gedoen en gesê het voor God sal moet verdedig. Jy sal met jou lewe verantwoording moet doen, ook vir daardie dinge wat jy in die geheim gedoen het. En nou praat ek nie van die sjokolade-etery nie!

Ons moet eerlik voor die Here lewe. Ons mag nie geheime kamers in ons harte saamdra nie. Ons lewe en denke moet ‘n oop boek voor die Here wees. Ons moet dinge nie probeer wegsteek nie. God weet dit in elk geval.

Besluit vandag dat jou lewe ‘n oop boek sal wees. Gee elke donker geheim vir die Here, selfs daardie dinge waaroor jy te skaam is om te praat. As jy jou man verkul in jou kop, gee dit vir die Here. Maak die sondelêer in jou kop vir ewig toe en bely jou verslawing en sonde aan die Here. Begin vandag oor, voor en nuut met ‘n skoon skilderdoek van jou lewe voor die Here.

Here, ek gee vandag my geheime hartkamers vir U. Ek bely my geheime sondes voor U. Vergewe my, asseblief. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Von ·

Dankie Here vir genade onbeskryflik groot vir n sondaar soos ek. Amen

Anoniem ·

Ek wens Zuma en die Guptas en al die ander korrupte maters kon hierdie lees en verstáán.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.