Gedagte vir die dag: God werk met ’n ou Kodak-kamera

sonsopkoms_voels_stiltetyd_Marco-Brits.jpg

Apoka Safari Lodge, Uganda (foto: Marco Brits)

Dit is Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie. (Jesaja 43:25)

Die storie word vertel van ’n tannie wat by haar predikant kom spog met hoe die Here van die oggend tot die aand met haar praat en alles van almal aan haar openbaar. Dan sê die Here aan haar dít en dan dát. Die predikant is naderhand geïrriteerd daarmee en ook vir seker skepties dat die Here so baie en so duidelik met haar “praat”. Hy besluit toe om haar te toets. Hy vra haar om by die Here te gaan hoor wat hy in sy tweede jaar op universiteit aangevang het. (Hy was stout op universiteit en het veral in sy tweede jaar besonder onbesonne dinge aangevang.) Sy moes ’n bietjie by die Here gaan uitvind as sy dan so goed die Here se stem hoor as wat sy te kenne wil gee. ’n Week het gekom en gegaan en toe eendag staan die tannie weer voor hom. In ’n uitdagende stem vra hy toe aan haar: “Toe, wat het die Here aan jou gesê?” Sy het so ’n rukkie stilgebly en toe geantwoord: “Hy sê Hy kan nie meer onthou nie.”

Ek dink die taal van die hemel is vergifnis. Is dit nie wonderlik om te weet dat my sondes totaal uitgewis word en nie meer bestaan nie! Dis amper soos die ou Kodak-films waarmee ons foto’s geneem het. As jy die fi lm uittrek en lig gee voor dit ontwikkel is, word alles vernietig.

So kom sê die Here aan my en jou: “Ek kan nie meer jou sondes onthou nie – Ek dink nie meer daaraan nie.”

Dis vergewe en verby. Moenie aan jou sondes weer ’n “opstanding” gee en jouself en die Here voortdurend herinner aan jou foute en mislukkings nie!

Dankie, Here, dat die taal wat U praat vergifnis is. Dankie dat U stadig is om kwaad te word en vinnig om te vergewe. Ek is so bly dat ek elke dag skoon en nuut saam met U kan begin en dat U gekom het om sondaars te red. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.