Gedagte vir die dag: God wil by jou tuiskom!

God-se-tye-01

Foto: Reint Dykema.

Jesus antwoord Judas toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan.” (Johannes 14:23)

Sommige mense – meestal mans – vermy intimiteit. Dis asof hulle van enige vorm van intimiteit met mense wegskram. Miskien is dit omdat hulle in beheer wil wees, voel dat hul waardigheid aangetas kan word of bloot net omdat hulle bang is om te veel van hul ware self vir ander te wys en te gee. Want wan- neer ek in ’n intieme verhouding met iemand saamleef, beteken dit outomaties dat ek my skanse laat sak: dat ek iets van my binne-wêreld teenoor daardie mense ontbloot.

Natuurlik hou dit risiko’s in. Daardie persoon kan my weerloosheid later teen my gebruik, hy/sy kan dalk nie hou van die regte “ek” nie en die verhouding kan doodloop. Die waarheid bly dat daar nie sprake van ’n volledige en vervullende verhouding is as ek nie bereid is om my bloot te stel nie. En as ek nie bereid is om ook daardie mens se ware self te leer ken … en lief te hê nie.

Die wonderlike van God is dat Hy in ’n intieme verhouding met ons wíl staan. Hy wíl Homself met ons deel, sy volmaakte liefde en goedheid aan ons wys en, ja, Hy wíl hê dat ons ons ware self teenoor Hom sal leef. Want dán is ons mos tuis bymekaar: tuis in die liefde.

Leef saam met my, God van my hart.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.