Gedagte vir die dag: God wil jou seën

sonondergang_voels_vlieg_stiltetyd.jpg

Foto: kids-myshot.nationalgeographic.com

”Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” (Numeri 6:24-26)

Julle, daarenteen, is … ’n koninklike priesterdom … Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys. (1 Petrus 2:9, 10b)

As jy ’n mamma is, sal jy sekerlik met my saamstem dat van die wonderlikste oomblikke van ma wees, is wanneer jou kinders in jou arms lê, of sommer saam met jou op die bank sit en TV kyk of, wanneer hulle klein is, knus by jou opkrul. Dis dan wanneer ek my hand op my kinders se kop sit en in stilte vir hulle bid en God vra om hulle te seën. Ek dink nie ons kan dit genoeg vir ons kinders doen nie.

Vandag se teksgedeelte is ook ’n seënbede wat die priesters destyds oor die volk Israel uitgespreek en op dié manier vir hulle verseker het God is by hulle. Waar die Here by sy volk woon, kon die priesters hulle waarborg dat God hulle sal beskerm. Hy sal na hulle omsien en hulle genadig wees. Hy sal besondere aandag aan hulle gee en hulle lewe vol vrede laat wees.

Ek is baie lief daarvoor om hierdie digterlike seëngroet te gebruik wanneer ek preek. Die ou vertaling lees: “God sal sy aangesig oor julle verhef …” Hy sal ons vriendelik toekyk, vir ons glimlag.

God se seën word egter soms verkeerd verstaan. Baie mense dink dit gaan daaroor dat dit altyd met hulle goed sal gaan. Natuurlik kan God ons ook op dié wyse seën, maar dit gaan oor veel meer. Sy seën kan joune wees al is jou lewe omgedop. God se seën gaan oor sy teenwoordigheid in jou lewe. As jy die Here se seën vra, vra jy Hom in werklikheid om by jou te bly. Dit gaan daaroor dat Hy by jou inwoon en jou vashou met sy liefde solank jy lewe.

Jesus se geseëndes is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, nie diegene met wie dit altyd goed gaan nie. Die Here doen vir sy geseëndes wat niemand of niks anders vir hulle kan doen nie.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

al ·

Amen. Christus seen ons inderdaad wanneer ons afhanklik is van Hom en van ons egos gestroop is. Hy moet ons elke asemteug wees sodat ons totale vrede ervaar selfs in ons moeilike tye.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.