Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae …: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.” Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Lukas 2:48-49)
Toe klein Siebert, my seun, twee jaar oud was, het hy in ’n winkelsentrum weggeraak. Dit was angswekkend. Die bykans 25 minute wat hy weg was, het soos ʼn ewigheid gevoel. Koerantopskrifte van vermiste kinders het deur my kop gemaal, ek wou gek word en kon skaars asemhaal; ek het op my knie neergeval en gebid die Here moet my tog die soort lyding spaar.
Dit was vreesaanjaend, maar wonderbaarlik het ’n vrou met hom op haar heup na my toe aangestap gekom. Ek kon die Here nie genoeg prys nie.
Ek kan verstaan dat Josef en Maria ontsteld was omrede Jesus as twaalfjarige sommer so verdwyn het. Bekommernis oor hulle seun se welstand het hulle sekerlik opgevreet in die tyd wat hulle angstig na Hom gesoek het. Toe hulle Hom kry, antwoord Jesus hulle ewe kalm: “Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Met hierdie gebeure wil Lukas beklemtoon dat Jesus reeds van sy jeugjare af God se belange eerste gestel het. Hy was gehoorsaam aan sy ouers en het saam met hulle teruggegaan na Nasaret en nog jare lank onder hulle gesag gebly, maar God was prioriteit een in sy lewe. Die gedeelte dui op die besondere verhouding tussen Jesus en sy hemelse Vader.
Jesus het as twaalfjarige die geleerdes met sy wysheid en insig in die tempel verstom. Hy was nie meer die seun na wie Maria benoud gesoek het nie, maar die man, Messias.
Hierdie verhaal illustreer so mooi die wonder van God wat mens geword het om sodoende ons skuld te betaal. Hy was waarlik God, maar ook waarlik mens, nie altyd verstaanbaar vir ons nie. Soos ons het Hy op die stofpaaie van hierdie aarde gestap. Hy het lyding en verwerping leer ken en daarom kan Hy ons met deernis troos wanneer ons hartseer of bekommerd is.
…Maar sou Hy dan juis nie geweet het van die angs waardeur sy ouers gegaan het nie(?)