Gedagte vir die dag: Goddelike selfvertroue

lavender-stiltetyd-mirexa-pixabay.jpg

Foto: mirexa/pixabay.com

“Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!” (Psalm 139:17)

Ons as mense is die meeste van die tyd baie broos en kwesbaar, maar in en deur Hom kan ons in selfvertroue wandel. Vrees en angs staan direk teenoor geloof. Angs bekruip ʼn mens behoorlik soos ʼn dief in die nag en wanneer dit toeslaan wurg dit die lewe uit jou uit.

Vrees word gebore uit twyfel. Wanneer ons twyfel, wat die vyand in ons hart kom saai, genoeg oordink, groei dit tot onsekerheid. Daardie onsekerheid skiet dan wortel in ons harte en kort voor lank het dit sy wortels in elke dimensie van ons lewens. Daarom is dit so belangrik vir ons om te staan op die Woord. Om geloof te saai in ons harte en hoop te plant. So sal ons verwagting en deurbraak oes.

ʼn Gees van vrees steel jou vrede en beroof jou van jou vreugde. Dit dreineer jou behoorlik en affekteer ook jou verhouding met die Here. Presies die teenoorgestelde kan van geloof gesê word. Geloof in Christus Jesus laat jou beker oorloop van liefde, guns en lewe! God het jou geskep en jy is perfek, net soos jy is! God weet watter kosbare kwaliteite en gawes Hy in jou belê het. Daarom kan Hy met soveel sekerheid vir jou ʼn helder toekoms en ʼn mooi verwagting belowe, en daarom kan jy Hom glo wanneer Hy hierdie wonderlike dinge aan jou openbaar.

Om God se wil vir jou lewe uit te leef is nooit verlore tyd of sonder beloning nie. Dit is ʼn bonatuurlike vermeerdering van jou insette. Jy is geskep deur Hom vir ʼn tyd soos hierdie en ʼn doel van astronomiese proporsies! Dit behoort genoeg te wees om jou in totale verwondering te laat.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here tenmidde van die vrese wat die bose saai is my Heer betroubaar ..Sy Woord se so…my ondervinding se so…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.