Gedagte vir die dag:  Godroepers

kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 22

My God, my God, waarom het U my verlaat …? (Psalm 22:2)

Hy val sommer met die deur in die huis, dié psalmskrywer: Hy wil weet waarom God hom gelos het. Waarom Hy so onbereikbaar is. Hoekom kry hy Hom dan nie in die hande as hy Hom nodig het nie? Hy roep en roep – soggens, saans, snags – maar daar kom nie ’n geluid uit God se mond nie. Geen teken dat Hy hoor nie.

Is Hy daar waar hy Hom soek? Ís Hy hoegenaamd …?

Dan sou Hy tog gesien het hoe die mense spot, hoe hulle sê: As daar ’n god vir hom is, laat dié hom red. Hoe hulle hom uitlag, vir hom tong uitsteek en smaal: Siestog, die ou godroepertjie …

Van altyd af roep mense na hul gode, en van altyd af word hulle daaroor gespot. Elia het gehoor hoe die Baälprofete hul god soebat, en toe spot hy hulle luidkeels toe dit blyk dat dié god nie ore het nie, of dat hy sy ore toedruk. Of dat hy bloot ’n illusie is, ’n groteske stuk selfbedrog (vgl. 1 Kon 18:26-27).

Jesus het na sy God geroep, in dieselfde hartseer woorde as dié van die Godroeper in Psalm 22. Toe dink die omstanders Hy roep na oorlede Elia. En verwonder hulle seker aan dié bygeloof. Verbeel jou: om in jou sterwensnood ’n ou, dooie profeet se hulp in te roep … (vgl. Mark 15:34-36).

Wie sal weet hoekom God soms talm? Waarom dit vir mense wat herhaaldelik na Hom roep, voel asof hulle aan ’n geslote deur hamer? Ten minste weet almal teen dié tyd hoekom Jesus se God- roepe op dowe Goddelike ore geval het.

Ons Vader, U wóú Hom nie hoor nie. Sodat ons, u ander seuns en dogters, kan weet dat U nooit u ore vir ons toedruk nie. Nooit nie.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Here Jesus deur al die pyn en smart aan die kruis was U my God gehoorsaam …sodat ek mag leef…ek roem U Grote Naam tot in alle ewigheid…Amen