Gedagte vir die dag: Goedgekeur!      

vriende_strand_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Eet jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n bly gemoed. God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. (Prediker 9:7)      

Ons almal soek na goedkeuring – maak nie saak of jy ’n kleuter of pensioenaris is, of jy ryk of arm is, suksesvol en welbekend is of nie. Belangriker nog: Soms is ons so besig om na God se wil vir ons lewe te “soek” en wonder ons of ons ooit God se goedkeuring sal geniet. Ons wonder of Hy tevrede is met ons lewe.

Ek het wonderlike bevrydende nuus vir jou: God het jou lankal reeds goedgekeur. Maak nie saak wat mense sê of dink nie.

Die Prediker sê: “Eet jou brood met vreugde, drink jou wyn met ’n bly gemoed” (9:7). Ons het klaar God se goedkeuring – dis tyd vir die fees om te begin.

God het jou met ’n bepaalde doel laat kom tot waar jy nou is. Israel het in die woestyn op die Here se bevel getrek en op sy bevel weer kamp opgeslaan (Num. 9:17). “Of dit bedags of snags was, as die wolk optrek, het hulle weggetrek” (Num. 9:21). Israel het nie gewonder of gevra waarheen trek ons môre of wanneer gaan ons waar wees nie. Hulle het bloot gekamp en geleef totdat hulle sien die wolk lig op en begin beweeg. Baie kere is ons so besig om te wonder en te vra oor God se wil vir die toekoms dat ons vergeet om nou die lewe tot ’n fees te verklaar.

Wonder jy wat die Here wil hê jy moet doen? Onthou, jy het lankal reeds sy goedkeuring. Jy is klaar deel van die bruid van Christus – deel van sy liggaam en gewas in sy bloed, reg vir die bruilofsfees. Laat jou klere wys dat jy die lewe tot ’n fees verklaar het! Laat die fees begin!

Dankie, Here, dat ek vandag al, sommer nou, die lewe tot ’n fees kan verklaar. Dankie vir die brood en wyn, en vir die wit klere – U het lankal reeds goedgekeur wat ek doen. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sondaar ·

Ek verstaan nie. Beteken dit ons is nie meer sondaars nie? Keur God ons ook goed as ons sonde doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.