Gedagte vir die dag: Goedgesindheid

Stiltetyd_wolke_Juanita Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. (Romeine 12:14)

En Dawid het gedink: ek wil met Nagas se seun Ganun op goeie voet bly, want sy pa was my goedgesind. Dawid het toe gesante gestuur om met hom deelneming te betuig oor die dood van sy pa. (1 Kronieke 19:2)

Nadat die koning van die Ammoniete dood is, het Dawid manskappe gestuur om met sy seun Ganun te simpatiseer. Dawid se motiewe was opreg, maar dit is verkeerd geïnterpreteer. In plaas van oop verwelkomende arms kry Dawid se gesante ’n koue skouer. Die leiers het vir hulle koning gesê: Dink u werklik Dawid vereer u vader deur gesante te stuur om met u te simpatiseer? Het hy nie eerder gesante na u toe gestuur om die stad deur te kyk en te verken sodat hy dit kan oorweldig nie?

Dit gebeur vandag nog dat ’n persoon se goeie bedoelings gewantrou word. Mense is geneig om iemand se goedgesindheid nie sonder meer te aanvaar nie. Hulle dink: “Daar moet iets agter hierdie gebaar wees. Dis te goed om waar te wees.”

Nadat Dawid se boodskappers verneder en hul manlike waardigheid vernietig is deurdat die een helfte van elkeen se baard afgeskeer is en hulle gedeeltelik ontbloot is, het Dawid se woede oor die Ammoniete ontvlam. Die uiteinde was ’n groot skaalse oorlog waarby die Arameërs ook betrek is.

Hoe onnodig! Wraak en weerwraak pas nie by God se kinders nie. Paulus bied die alternatief: Seën julle vervolgers, moet hulle nie vervloek nie.

Al word ons goeie bedoelings geminag, mag ons nie uit wrewel en bitterheid optree nie. Ons moet die kwaad met die goeie probeer oorwin.

Here Jesus, ek wil in U bly. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.