Gedagte vir die dag: Goeie hoop in slegte tye

Argieffoto

Argieffoto

‘Roep weer en sê: So sê die Here die Almagtige: My stede sal weer oorstroom word deur voorspoed. Ek, die Here, gaan weer genade betoon aan Sion, Ek gaan Jerusalem weer my woonplek maak.’ (Sagaria 1:17)

Ons noem hulle doemprofete, manne wat in die antieke tye deur God geroep is om die toekoms aan konings en nasies bekend te maak en meesal rampe, oorloë, hongersnood, droogtes en pes voorspel het. Hulle moes die oordeel van God, die straf oor afgodediens en ander ongehoorsaamhede afkondig en dit soms self meemaak. Maar as jy fyn lees, sal jy ontdek dat daar ’n goue draad van hoop deur hul profesieë loop en dat hulle nie nalaat om God se beloning aan te kondig vir hulle wat tot inkeer kom en berou toon nie, hulle wat Hom as enigste ware God aanbid.

‘Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale,’ sê Maleagi in Maleagi 4:2.

‘Die bevrydes van Sionsberg sal optrek om oor die bergland van Esau te regeer, en die heerskappy sal aan die Here behoort’ (Ob 1:21).

In die boek Amos staan daar: ‘Ek sal my volk weer in hulle grond plant, en hulle sal nie weer uitgeruk word uit die grond wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God’ (Amos 9:15).

‘Ek sal my volk se sonde vergewe, die sonde wat Ek nog nie vergewe het nie, en Ek, die Here, sal in Sion woon’ (Joël 3:21).

So kan jy aanhou om God se beloftes aan sy volk te versamel. Hy gee hoop aan dié wat sy oordeel oorleef. Hy skenk altyd weer iets om na uit te sien, hoop vir die toekoms, ook vir jou.

Hemelvader, elke donker wolk het ’n silwer randjie. Die ou gesegde kry nuwe betekenis as lewens gered word en siekes gesond word, reën ná die droogte weer val, vrede ná oorlog gesluit word en u lig deurbreek ná donker tye.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

neelsie ·

God se beloftes en Woord is betroubaar, maar jy moet jou bekeer van sonde en in verhouding met Hom leef.

SNEL ·

Ja Neels, ek stem, mens kan nie God se seën verwag as jy nie volgens Sy wil lewe nie. Gehoorsaamheid is vir God alles.
Ek lees vanoggend n ding (nou seker nie van toepassing op die gedeelte nie, maar was nogal treffend), dis die gedeelte van die 12 verspieders en waar net Josua en Kaleb glo dat hulle Kanaän sal kan inneem. Almal ken die verhaal, maar die les daaruit; in die eerste plek as ons ons probleme vergroot, verklein ons dan eintlik die Here en twyfel in Sy Almag….dit was nogal treffend vir my. Tweede plek; Kaleb en Josua het nie een keer daaraan gedink om hulle oortuigings te verander om by die meerderheid in te val en om eenstemmigheid te kry nie. Hulle het vas gestaan in wat hulle glo….ook nogal treffend. Laat ons vasstaan in geloof, al sê die wêreld wat en dat ons staan op God se Woord en Sy beloftes….dis die enigste Lewende Boek met krag wat mens kan lees.

Soekie ·

God is groot en Almagtig en waardig om gedien te word. Hy doen nog steeds wonderwerke. Vra vir my !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.