Gedagte vir die dag: Gooi weg die bagasie

Karoo.jpgLees: Hebreërs 12:1-3

Kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. (Hebreërs 12:1-2, NLV)

Die skrywer van die Hebreërsbrief vergelyk die aardse lewe met ’n wedloop. Hierdie wedloop vereis in spanning, oefening, fokus op die wenstreep en die regte ingesteldheid van al die deelnemers. Nog ’n vereiste van ’n suksesvolle wedloop is dat die deelnemers ontslae moet raak van alle bagasie wat hulle kan verhinder om voluit te hardloop. Dit is ondenkbaar dat ’n atleet met sy waterstewels en winterjas sal probeer hard loop!

Watter dinge verhinder jóú op die oomblik om voluit aan jou eie lewens wedloop deel te neem? Is dit dalk sondes soos egoïsme, materialisme, ongehoorsaamheid, bekommernis of twyfel? Jy sal van al hierdie dinge ontslae moet raak.

Jesus is die eintlike fokus van jou wedloop, en jy sal net suksesvol wees as jy jou oë op Hom vasgenael hou. Dit is immers Hy wat die pas bepaal waarmee jy hardloop, die rigting waarheen jy hardloop en ook die doelgerigtheid waarmee jy die proses aanpak. Gooi sommer nou al jou oortollige bagasie weg en begin onbelemmerd hardloop terwyl jy Jesus die hele tyd in die oog hou. Dan sal jy sonder twyfel as ’n wenner aangewys word.

Here Jesus, ek is jammer dat ek so lank al probeer hardloop terwyl ek terselfdertyd loodswaar bagasie met my saamsleep. Help my asseblief om ontslae te raak van al my bekommernisse, twyfel, moedeloosheid en ander sondes. Ek wil my oë net op U hou sodat ek eerste die wenpaal kan bereik. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.