Eiesinnigheid is net so erg as die bedrog van afgodery. (1 Samuel. 15: 23)
John Monsell, ’n negentiende-eeuse Engelse predikant, het ’n pragtige himne geskryf oor die aanbidding van God:
O worship the Lord in the beauty of holiness,
Bow down before Him, his glory proclaim;
With gold of obedience and incense of lowliness,
Kneel and adore Him: the Lord is His name.
Dis so mooi, so aangrypend en so … onbereikbaar. Maar bloot die gedagte van die “gold of obedience” en die “beauty of holiness” wil maak dat ’n mens wil “kneel down and adore Him”. Om iewers in liefde aan sy kleed te raak en ’n gevoel van vernuwing en reiniging te ondervind.
As ’n mens vir Saul ’n wens kon wens, as ons vir onsself ’n wens kon wens, is dit seker om gedurig van hierdie “goud van gehoorsaamheid” bewus te wees en ten minste iets daarvan te besef en na te streef. Want Saul het nie geluister nie, en dan het hy altyd verskonings gehad, baie dikwels dat hy wou “offer”.
Samuel verwerp sy verskonings met ’n vernietigende: “Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande” en: “eiesinnigheid is net so erg as die bedrog van afgodery” (v. 22-23).
Dit kom daarop neer dat eiesinnigheid eintlik aanbidding van jouself is, met jou die afgod en jou aanbidding “bedrog”. God vra nie ons “offers” nie; Hy kan daarsonder klaarkom. Hy vra dat ons, as mense in wie sy Gees woon, Hom sal aanroep, juis omdat Hy so bereid is om te help, te vergewe en sy genade oor ons uit te giet. Dis sy “goud”.
Amen
Mooi.