Gedagte vir die dag: Hande oplê

Jesus_kleed_stiltetyd.jpg

Foto: freebibleimages.org

Die gelowiges het hulle (die sewe diakens) voor die apostels gebring, en dié het vir hulle gebid en die hande opgelê. (Handeling 6:6)

Die apostels was (vir eers) klaar met die Joodse geleerdes. Hulle het oral, in die tempel en in huise, “die evangelie verkondig dat Jesus die Christus is” (5:42). Jesus is die Christus, die Verlosser. Dit is die eenvoudige grondwaarheid van die Boodskap. Onthou die ironie: die vervolgers van Jesus was Jode, maar Petrus-hulle en die eerste duisende gelowiges was ook Jode.

En nog ’n ironie: die “kerk” is in die “wêreld” en die “wêreld” is in die “kerk”. Heel gou het daar dispute ontstaan, onder andere dat sommige van die gemeente “onregverdig” versorg is. Die weduwees van die Griekssprekendes is klaarblyklik te kort gedoen. Om dit te omseil is ’n komitee van sewe diakens benoem om die versorging behoorlik waar te neem terwyl die apostels die verkondiging gedoen het. Die sewe diakens is na die apostels gebring wat hulle die hande opgelê en vir hulle gebid het.

Dis ’n mooi handeling: om iemand in die Naam van die Here die hande op te lê en vir hom te bid. Of bloot iemand se hand te vat terwyl julle bid. Daar is iets seënends in, iets van God, iets van die Gees, iets van Christus wat die siekes die hande opgelê het en genesend aan melaatses geraak het. Dit sê: die Here is spesiaal saam met jou en ek dink aan jou in wat jy gaan doen of beleef, of wat jou opdrag ook al is. Méér: die Here sal self sy hande oor jou hou. Jy is onder die Here se sorg.

Kom ons raak aan mekaar wanneer ons vir mekaar bid. Want daarmee sê ons ons is afhanklik van mekaar – en van die Here. Kom ons gebruik ons verbeelding positief en lê in ons gemoed al ons geliefdes die hande op in Jesus se Naam. Want die apostels het nou hulp gehad. Die kerk was aan die organiseer. Die koninkryk was aan die uitbrei. En in dit alles, soos in jou en my lewe, is die hand van die Here.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.