Gedagte vir die dag: Hanteer jou verlies korrek

vrou_sonsondergang_dink_see_staar.jpg

Foto: stringsofsoulfulness.com

Lees: Johannes 16:16-24

Julle sal bedroef word, maar julle droefheid sal in blydskap verander. Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees. (Johannes 16:20, 22)

Jerry Sittser ’n Amerikaanse professor wat sy ma, vrou en dogtertjie in ’n ongeluk verloor het wat deur ’n dronk man veroorsaak is, skryf ’n boek ná sy nagmerrie-ondervinding. In hierdie boek met die titel A grace disguised vertel Sittser dat hoe ’n mens jou persoonlike trauma hanteer van drie faktore afhang: Die keuses wat jy maak, die genade wat jy kry en die manier waarop die verlies jou (meestal ten goede) verander.

Ons almal kry te kampe met verliese tydens die duur van ons lewe. Dinge wat ons so hartseer maak dat dit vir ons voel asof ons nie met ons lewe kan aangaan nie. Indien jy daarin kan slaag om jou verliese op die regte manier te hanteer, gaan jy heel waarskynlik ontdek dat die ervaring wat vir jou so moeilik was, uiteindelik tot jou beswil was. Jy gaan ’n veel sterker mens anderkant uitkom. Een met empatie vir ander mense en kennis wat jou in die toekoms sal help om mense wat deur ’n soortgelyke trauma moet gaan, by te staan.

Verlies kan jou baie seermaak, maar op die ou end rus dit jou toe om ’n meer simpatieke persoon te wees wat werklik ’n verskil in ander se lewens kan maak. Omdat jy in God glo, weet jy ook dat Hy op die ou end jou droefheid weer in blydskap sal verander.

Vader, wys my hoe ek my verlies positief kan verwerk omdat ek vir seker weet dat U weer my droefheid in blydskap sal verander. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.