Lees 1 Petrus 5:1-11
Pas die kudde van God … op. Hou toesig oor hulle … deur ’n voorbeeld … te wees. (1 Petrus 5:2-3)
Die “bestuurders van God se huishouding” – só word die ouderlinge in die ou formulierboeke genoem – het ’n belangrike maar eenvoudige opdrag: Hanteer versigtig! Werk mooi hiermee!
Hulle moet goed weet dat hulle God se huis bestuur, nie hul eie nie. Dit is Goddelike eiendom wat aan hulle toevertrou is. Pasop, dus! Versigtig, nou!
Dit blyk uit die meer spesifieke vermanings dat daar in Petrus se tyd dalk enkele probleme met hierdie bestuurders kon gewees het: Die verwysing na “dwang” (v. 2), na “eie gewin” (v. 2) en na “baas … speel” (v. 3) vertel alles ’n eie storie.
En daardie storie is klaarblyklik nog nie klaar vertel nie. Hoekom anders klink dit so bekend, juis ook vir hedendaagse lesers? Want hoe jy hulle ook al noem, hierdie leiers in die kerk van Christus sit almaardeur met dié dilemma: Hulle raak so tuis, so gemaklik in dié werk dat hulle dikwels vergeet dat hulle daar is omdat hulle deur die Hoof van die huis aangestel is. Dat hulle doen wat hulle doen in opdrag van Hom.
Dat hulle uiteindelik aan Hom moet verslag doen. In Petrus se taal: Hulle sal moet rekenskap gee van hul gewilligheid om toegewyd toesig te hou. Van hul voorbeeld wat navolgenswaardig moet wees.
Van watter kant jy hierdie tydlose én tydige vermanings ook al beskou, een feit is ononderhandelbaar: Die oppassers van God se kudde moet oppas dat hulle nie in die versoeking kom om die kudde as hul eie te beskou nie. Herders moet onthou dat hulle ook ’n Herder het.
Dit troos my, goeie Herder, dat U na my kyk. Help my elke dag met my groot verantwoordelikheid.