Gedagte vir die dag:  Hardloop daarvan weg     

 Duif_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ag, as ek maar vlerke soos ’n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ’n woonplek soek; ek sou ver wegvlieg en in die woestyn gaan bly. (Psalm 55:7-8)

Dawid beleef stres. Sy vriende is nou sy vyande en val hom aan. Hy spel sy emosionele reaksie pragtig uit in hierdie psalm: Hy is rusteloos en ontstemd, sy hart krimp inmekaar, sy liggaam bewe van angstigheid. Ja, dis hoe angs en vrees voel. Hy wens dat hy net kon wegkom – dat hy net kon opstyg en wegvlieg, dat hy ver in die woestyn vrede en veiligheid kon gaan vind. Ook dit is tipies, nie waar nie? Ons kry ook sulke wanhopige gedagtes dat dinge net anders moes gewees het.

Die goeie nuus is egter dat daar vir ons in ons eie aanslae wel ’n wegkruipplekkie is – by die Here. Die geestelike vaders het gesê die “woestyn”, waarheen soveel profete en godsmanne onttrek het om God te soek, eintlik in ons eie hart is. As ons die stil plek in ons siel vind waar die Gees woon, word alles rustig en vredevol. Onthou om jou gereeld te gaan afsonder – dit kos oefening om daardie plek te vind.

Begrypende God, help my om vrede te vind in die gedrang en geraas – om U te vind. Amen.

Bron: Hou vas aan die Hoop deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Maria

Ongelooflik net so gevoel dankie x