Gedagte vir die dag:  Hartsake

hart_klip_hand_stiltetyd.jpg

(Foto: pixabay)

Lees Psalm 51:1-10

Maar U verwag opregtheid diep in ’n mens se hart … (Psalm 51:8)

Dawid se misdade lê bloot voor elke Bybelleser: al die mislike besonderhede (vgl. 2 Sam 11), die profeet se oordeel (vgl. 2 Sam 12). Nou, in hierdie hartverskeurende psalm, gaan lê die koning, bewend en vol selfverwyt, op die grond voor God.

En hy soebat: “Wees my genadig … wis my oortredings uit … Was my skoon … reinig my …” (v. 3-4).

Sal God hom vergewe as hy hard genoeg pleit en laag genoeg voor Hom rondkruip? As hy homself kasty en as hy alles onomwonde erken, ook God se reg om hom te straf?

Ja, dit weet ons vandag: Die Here hét vergewe. Hierdie hoereerder, skandemaker, moordenaar, sou nog jare lank oor die Ou Israelvolk regeer. Hy sou trouens die mees gevierde van al Israel se konings word. En die vernaamste uit al die Gesalfde, die Messias, se voorgeslagte. Daar sou later gesê word hy was ’n man na God se hart (vgl. Hand 13:22).

Om te dink dat hierdie vername man op ’n keer plat voor God gelê het (vgl. 2 Sam 12:16-17). Om te dink dat daar tot vandag mense is, gelowiges, wat reken dat hierdie kruipery die rede vir die vergifnis was.

Hulle verstaan nie. Hulle weet duidelik nie veel van die skrikwekkende pyn van sondebesef nie. En hulle weet weinig van God se vergifnis. Dat dit nie die gevolg van menslike berou is nie, maar dat dit uit die aard van sy Godwees spruit. Dat dit is hoe Hy is. Só lyk sy hart.

Nee, Hy vra nie offers nie; Hy vra bloot ’n hart vol berou (vgl. Ps 51:18-19). En dít kan nie voorgegee word nie; Hy sien mos binne-in daardie hart.

U sien my, al kruip ek weg. U hoor my, al fluister ek. U weet alles. Vergewe my!

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.