U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. (Psalm 8:6, Bybel in Afrikaans 1933/1953)
Dawid verwonder hom oor die grootsheid van die heelal, en vra dan waar die mens in dié wonderlike wêreld inpas: “Wat is die mens dat U aan hom dink?” (Ps 8:5). Ons natuurlike gevoel is dat ons maar net ’n klein, klein plekkie inneem in die groot heelal, dat ons maar niksbeduidend is. Dis egter verkeerd! Dawid plaas ons feitlik heel bo aan die skepping: letterlik sê hy “net minder as ’n god”, waarmee ook die engele bedoel kan word. Ja, inderdaad! Bo die son, maan en sterre staan die mens – direk onder die hemelwesens en God self. Ons is die kroon van God se skepping, ons is na sy beeld geskape.
Verstaan goed: As ons vervalle mense sien, verhongerd, verniel of verdryf uit die samelewing, is dit ’n teenstrydigheid, ’n ver afwyking van God se plan. Dit is die tragiese gevolg van die sonde. Dit moet ons hartseer maak – en kwaad! God se hele wil is dat daardie een weer herstel sal word tot die eer, heerlikheid en heerskappy wat vir die mens bedoel is.
Vader, maak u hartseer my hartseer as ek sien hoe mense hulle waardigheid verloor. Hulle dra immers die beeld van God. Amen.