Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra. (Ps 126:5-6)
Hartseer is ’n woord wat oor feitlik al die temas van hierdie maand geskryf kan word. Dit is tog nodig om afsonderlik daaraan aandag te gee, gewoon net omdat daar so baie oorsake vir hartseer is wat nie in die vorige dagstukke aan die orde gekom het nie. Hoe sal ’n mens hartseer beskryf? Innerlike pyn? Ek reken dit kom die naaste aan die waarheid. Want pyn is dit inderdaad. Soms is dit so erg dat jy dit fi sies ervaar. Dis nie net in jou kop nie, dit neem jou totale menswees in beslag.
Daar is onder andere die hartseer oor kinders wat seerkry. ’n Kind wat deur die trauma van ’n egskeiding gaan, of ’n ernstige siekte moet verwerk, of sy werk verloor het. Mense besef nie altyd watter geweldige invloed selfs volwasse kinders op hulle ouers het nie.
Daar is ook die hartseer oor kinders wat vergeet. Ek het etlike kere in ’n ouetehuis by ’n ou moeder gekom met ’n foto’tjie van ’n kind of kleinkinders in die hand en trane in haar oë. Dan moet ek hoor dat sy so baie lank terug van hulle gehoor het. Dis ’n groot hartseer.
Daar is baie dinge wat ons hartseer maak. Maar wat maak ons met ons hartseer? As jy kan, moet jy huil. Dit help altyd. Maar dan moet jy onthou om weer op te hou, anders raak dit ’n gewoonte. Maar wat jy te alle tye moet doen, is om met jou hartseer na die Here te gaan. Hartseer is dikwels ’n belegging in ’n meer volwasse, ryker gees, meer afhanklik van God, meer ingestem op dieper verhoudinge. Dit is die trane saam met die saaisak wat later ’n goeie oes oplewer.
Gaan met jou hartseer na die Here toe.