Gedagte vir die dag: Heer en Leermeester

pa_seun_gesels_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. Dít verseker Ek julle: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie … ” (Johannes 13:13, 16)

Om ’n heer en leermeester te hê is anders as om “bemeester” en beheer te word. Om ’n heer en leermeester te hê beteken dat daar iemand is wat my beter ken as wat ek myself ken, wat nader aan my is as ’n vriend en wat die mees verskuilde dieptes van my hart verstaan en die vermoë het om dit ten volle te bevredig. Dit beteken dat ek iemand het wat my geborge laat voel in die wete dat hy al die twyfel, onsekerhede en probleme in my gemoed opgeklaar het. Om ’n heer en leermeester te hê is niks anders en niks minder nie as: “ … net Een is julle Leermeester … die Christus” (Matt. 23:8, 10).

Ons Heer neem nooit stappe om my te dwing om te doen wat Hy wil hê nie. Soms wens ek dat Hy my wil “bemeester” en beheer om my te dwing om sy wil te doen, maar Hy sal nooit nie. En met ander tye wens ek weer dat Hy my alleen moet laat, maar Hy sal nie.

“Julle noem My julle Leermeester en Here … ” (Joh. 13:13), maar ís Hy? Leermeester, Meester en Here het maar ’n geringe plek in ons woordeskat. Ons verkies die terme Verlosser, Heiligmaker en Geneesheer. Die enigste woord wat ’n werklike beskrywing gee van wat dit beteken om “bemeester” te wees is liefde, en ons weet maar baie min van die liefde soos God dit in sy Woord openbaar. Ons gebruik van die woord gehoorsaam, is ’n bewys hiervan. In die Bybel is gehoorsaamheid gebaseer op ’n verhouding tussen gelykes; byvoorbeeld die van ’n seun met sy vader. Ons Here Jesus was nie net God se dienskneg nie, Hy was sy Seun. Hoewel Hy die Seun was, het Hy … geleer wat gehoorsaamheid is (Heb. 5:8). Indien ons bewustelik ervaar dat ons “bemeester ” word, is daardie bewustheid op sigself ’n bewys daarvan dat ons nie ’n meester het nie. Indien dit ons gesindheid teenoor Jesus weerspieël, is ons nog ver verwyder van die verhouding wat Hy met ons wil hê. Hy wil ons in ’n verhouding bring waar Hy so gemaklik ons Here en ons leermeester is, dat ons glad nie daarvan bewus is nie – ’n verhouding waar ons maar een wete het – dat ons aan Hom behoort om Hom te gehoorsaam.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here hoe dankbaar is ek opnuut…..my lof en eer kom U toe…..daar is nie menswoorde om U te bevat nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.