As jy op jou vyand se beeste of donkie afkom wat verdwaal het, moet jy dit na hom toe terugvat. As jy sien dat die vrag op jou vyand se donkie te swaar is vir hom, mag jy dit nie net so los nie. Jy moet jou vyand help om dit ligter te maak. (Eksodus 23:4-5)
Genade is een van die eienskappe waaraan God se kinders uitgeken kan word. Ons help dié wat dit nie verdien nie. Ons betoon goedheid aan ons vyande. Ons doen goeie dinge vir dié wat ons haat. Ons gee ons reg om wraak te neem prys. Ons betoon God se deernis in ’n verbitterde wêreld.
Bid vir geleenthede om julle onvriendelike buurman te help. Wees geduldig met ’n agterbakse kollega. Laat die onbeskofte bestuurder maar voor jou inry op die snelweg. Ondersteun julle strydlustige familielede gedurende moeilike tye. Betoon simpatie wanneer ander swaarkry. Jesus stel dit baie duidelik in Lukas 6:27-28: “Julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan dié wat julle haat. Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak.” Gebruik elke geleentheid om almal reg te behandel.
Wanneer julle dié liefhet wat dit nie verdien nie, lewe julle soos Jesus. Wanneer julle vrygewig en hulpvaardig is, is julle kinders van die lig. Julle is vir julle vyande ’n goeie voorbeeld van God se liefde wat hulle siele kan red.
Here, ons wil u lig in die wêreld laat skyn. Vul ons met u liefde sodat ons ons vyande kan seën. Help ons om getrou goedheid aan almal te bewys. Amen.
Ek kom so ver tekort, het dit moeilik om soms wat op my pad kom te hanteer, die vyande in die wereld maak dit vir my partykeer amper te moeilik, maar deur die Heilige Gees word ek soms gedryf om vir hulle te bid. Ek probeer hard want as God se Genade nie oor my is nie is ek ook verlore. Daarom is ek en almal verplig om net ons God vir Genade te vra en gereeld te bid. Die mensdom vergeet God en dink die moderne mens kan alles oplos. In SA asook oor die wereld het God se kinders nou moeilik omdat die Woord so se maar nou moet ons juis bid, ons God sal ons laat seevier, net Hy en Hy alleen. So mense laat ons saamstaan ongeag wat ons kleur kom ons bid baie ernstig almal saam, God sal hoor.