Help om die kerk in Bangladesj te versterk

Die lewe by die skool is besonders moeilik vir Christen-kinders in Bangladesji. (Foto: Geopende Deure)

Die Kersseisoen is in die Christelike kultuur ʼn tyd van vreugde waartydens die fokus op Jesus en sy geboorte val. In Suid-Afrika is dit ʼn tyd waarna mense uitsien, met talle wat ʼn blaaskans by die werk neem vir ʼn welverdiende vakansie en om Kersdag saam met hul geliefdes deur te bring.

Ongelukkig verskil vervolgde Christene in ander wêrelddele se Kersfeesvieringe aansienlik van Suid-Afrikaners s’n omdat dit vir hulle ʼn uitdagende tyd is waarin hulle meer struikelblokke as gewoonlik moet trotseer.

Volgens Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, ervaar hulle dikwels tydens die Kerstyd verskerpte vervolging, alleenheid en verwerping in hul gemeenskappe – alles net omdat hulle Jesus liefhet en die lig van die wêreld wil versprei.

“Dié donker prentjie bring mee dat Kerstyd vir die vervolgde kerk ʼn ekstra moeilike tyd is en nie deur enige feesvieringe gekenmerk word nie. Hul vrees vir meer aandag en vervolging bring mee dat hulle nie die Here openlik kan dien in die Kerstyd of Kersdag openlik saam met hul families kan vier nie.”

Gouws sê verder dit is ongelukkig dikwels die kinders wat die swaarste kry en die prys betaal vir hul ouers se geloof.

“ʼn Mens se kinderjare moet gevul wees met onskuld, om te ontdek, te lag en te speel. Christen-kinders word egter geboelie, niemand wil by die skool met hulle speel nie en daar word openlik in die gemeenskap teen hulle gediskrimineer.”

Gouws vertel van Bijli*, ʼn tienjarige meisietjie van Bangladesj, wat oral verstoot word en daagliks verwerping ervaar.

“Sy het geen maatjies by die skool nie, sy word geboelie en deur die ander kinders verwerp – net omdat sy en haar gesin Jesus volg.

“Al die ander kinders in hulle dorp is Moslems. Hulle wil nie met Bijli en haar vyfjarige boetie Mohon* speel nie en boelie hulle. Bijli is dikwels in trane wanneer sy van die skool af terugkom, omdat die ander kinders haar slaan omdat die gesin Christene is.”

Gouws verduidelik dat Geopende Deure se vennote moeite doen om Kersdag besonders te maak vir lede van die vervolgde kerk in lande waar Christene geteiken word.

“In Bangladesj, en ander lande, word spesiale Kersvieringe vir gelowiges soos Bijli en haar gesin gereël. Almal wat die vieringe bywoon, is gelowiges vanuit ʼn Moslem-agtergrond van afgeleë landelike gemeenskappe. Vir baie is dit die eerste keer dat hulle ander gelowiges ontmoet.

“Vir ʼn jong dogtertjie soos Bijli is hierdie ʼn wonderlike ervaring. Sy en haar boetie kan weer voel hoe dit is om sorgvry te wees en met ander kinders te speel. Hier is sy nie bang as een van die meisies na haar toe stap nie, want almal is gelowiges wat vir Jesus lief is,” verduidelik Gouws.

Hy sê die beperkings en vrees vir vervolging in hulle eie dopie is so erg dat hulle nie Kersfees openlik in hul dorp kan vier nie. Dit is dus vir hulle ʼn fantastiese ervaring om Geopende Deure se Kersfeesvieringe saam met ander Christene by te woon. Almal vier saam Jesus se verjaardag, sing gesange en speel saam speletjies. Die kinders het die geleentheid om baie nuwe dinge te leer – wat weens vervolging nie in hul dorp moontlik is nie.

“En hoewel hulle na die feesvieringe teruggaan na hulle dorpie, waar vervolging verseker vir hulle wag, is hulle versterk en bemoedig. Bijli en haar boetie se toekoms is dalk onseker, maar hierdie Kersfeesvieringe het haar die geleentheid gegee om te leer dat sy ʼn groter familie regoor die wêreld het wat vir haar bid en hulle ondersteun.”

Gouws voeg by dat Geopende Deure se visie is dat elke vervolgde kind soos Bijli beskerm en versorg moet word. Elke vervolgde kind moet grootword met die wete dat hulle geliefd is.

“Jy kan vandag help om die hoop van Kersfees en die geskenk van ’n veiliger toekoms aan vervolgde families soos Bijli s’n te gee. As jy vandag kies om vervolgde Christene te seën, sal jy help om in die langtermynbehoeftes van vervolgde families te voorsien. Dit sal hulle die beskerming, versorging en ondersteuning bied wat hulle nodig het om te floreer,” sê Gouws.

Besoek Opendoors.org.za vir meer inligting oor hoe om vervolgde Christene hierdie Kersfees by te staan in gebed en ondersteuning, en so aan hulle te wys dat hulle nooit alleen is nie.

Bangladesj op Geopende Deure se waarnemingslys:

Bangladesj het van 2019 tot 2020 met tien posisies opgeskuif na nommer 38 op die Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys. Namate die hoeveelheid Christelike bekeerlinge toeneem wat Islam verwerp, neem die vervolging ook toe.

Die regering gee al meer toe aan die eise van plaaslike Islamitiese groepe wat minderhede dophou, veral bekeerlinge tot Christenskap van ander gelowe. Hierdie bekeerlinge kom dikwels as klein huiskerke byeen of as geheime groepe uit vrees vir aanvalle. Hulle ervaar beperkings en struikelblokke van radikale Islamitiese groepe, plaaslike godsdiensleiers en hul families.

Nuwer evangeliese kerke en historiese kerke soos die Rooms-Katolieke Kerk ervaar ook vervolging. Pastore ontvang dikwels doodsdreigemente en gelowiges word toegang tot hulpbronne in die gemeenskap geweier. Om druk op hulle uit te oefen om Jesus te verloën, kan Christene gedwing word om te trou of om hul ondernemings prys te gee.

Christen-kinders ly ook onder vervolging by die skool en word deur hul onderwysers en medeleerlinge bespot vir hul geloof.

Bid vir Bangladesj:

  • Bid vir voortdurende dapperheid vir Christene in Bangladesj terwyl hulle die Evangelie verkondig.
  • Bid dat Christen-kinders wat gespot en geterg word vir hul geloof sterk sal staan in die geloof, maak nie saak wat gebeur nie.
  • Bid vir Christelike sakelui wat deur die samelewing geboikot word of wat hul ondernemings moes prysgee oor druk vanaf die Moslem-meerderheid.

Jan Gouws van Geopende Deure het met Maroela Media gesels oor hoe kinders in die vervolgde kerk Kersfees ervaar, en wat jy kan doen om dié kinders te beskerm, asook help versorg. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

*Skuilname is gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Wat van radio-boodskappe? Dit word nie genoem as alternatief of meegaande nie. Kersdiens kan dan mos in hul huis gevolg word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.